|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 15:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Landbou sal aanstaande maand sterk op die voorgrond wees wannneer die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) sy tweejaarlikse konferensie vir Afrika in Sandton aanbied en die wêreldkongres vir landboujoernaliste ook kort daarna hier aangebied word.
Meer as 50 landbouministers en sowat 500 ander afgevaardigdes uit Afrika sal die FAO-konferensie van 1 tot 5 Maart bywoon om die stand van voedselsekuriteit en landbou-ontwikkeling op die kontinent te bespreek.
Me. Thoko Didiza, Mininster van Landbou en Grondsake, het op 'n nuuskonferensie gesê die implementering van Nepad se sektorplan vir die landbou, bekend as die Omvattende Afrika Landbou-ontwikkelingsplan, sal veral aandag geniet. Staatshoofde het vroeër oor dié plan ooreengekom wat bepaal dat 10 % van begrotings aan landboufinnasiering bestee moet word.
Sy sê daar word beoog om tydens die konferensie verskeie bilaterale ooreenkomste met lande oor landbou-ontwikkeling te sluit. Van dié lande is Angola, Lesotho Namibië, Mosambiek en Ethiopië.
Verskeie lande, soos Nigerië, stel belang om kommersiële boere uit Suid-Afrika te lok. Didiza sê daar sal klem gelê word op die nodige ondersteuningstelsels vir sulke boere sodat dieselfde foute as met boere in Mosambiek nie herhaal word nie. Daar moet voorsiening gemaak word vir finansiering, markte en insette voor sulke projekte kan slaag.
Onder die afgevaardigdes sal ook verskeie boere wees wat hul ervarings, probleme en beperkings met Suid-Afrikaanse boere wil deel. Deur die betrokkenheid van die Internasionale Federasie vir Landbou-produsente sal gepoog word om landbou-unies se vermoëns uit te bou.
Die hoofkonferensie word voorafgegaan deur byeenkomste van nie-regeringsinstansies wat met die landbou gemoeid is. 'n Seminaar oor handel tussen lande in Afrika en een oor voedselsekuriteit en bioverskeidenheid word onder meer aangebied.
Die Regering het R4 miljoen vir die konferensie bewillig.
Kort daarna volg die wêreldkongres vir landboujoernaliste wat vir die eerste keer in Afrika gehou word. Bykans 'n honderd joernaliste uit meer as 15 lande woon die kongres by wat op 12 Maart buite Bela-Bela begin en 'n week later buite Kaapstad eindig.
5 Maart 2004Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24