|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 15:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Agri SA moet aanhou om sy goeie verhouding met die Regering te gebruik om druk uit te oefen oor beleidsake wat die landbou raak, want druk is één taal waarna die Regering luister, het mnr. Tony Leon, leier van die Demokratiese Alliansie, op 'n vergadering van die Landbouvereniging Durbanville gesê.
Volgens hom is dit belangrik dat kommersiële boere in 'n goeie gees met nuwe boere saamwerk en 'n opbouende bydrae tot grondhervorming en armoedeverligting lewer. "Dit beteken egter nie dat boere nie die ANC mag teenstaan nie."
Boere in die Wes-Kaap het hul bereidheid getoon om nuwe boere by te staan met landboukennis en sakevaardighede.
Een van die grootste probleme wat die landbou raak, is belasting op landbou-eiendom. "Die DA glo as dit nodig is om dit te hef, moet dit net op die waarde van die grond gehef word. Die dienste wat gelewer word, moet ook in ag geneem word."
Hy glo die Wetsontwerp op Eiendomsbelasting, wat volgende maand in die Parlement vir bespreking dien, sal aandag gee aan van die huidige probleme. Die doel van dié wetgewing is om 'n raamwerk te skep waarvolgens eiendomsbelasting gehef kan word om groter sekerheid en eenvormigheid te verseker.
Oor die minimum loon vir plaaswerkers het mnr. Leon gesê die beginsel en die wet as sodanig is nie problematies nie. "Die probleem lê by die regulasies wat inhoud aan die wet gee en in die hande van die Minister van Arbeid is. Dié regulasies neem nie die werklikheid in ag nie."
Mnr. Leon het hom sterk uitgespreek oor landelike veiligheid. Hy het gesê op papier word meer geld vir die polisie gegee, maar die werklikheid is dat 6 000 lede jaarliks dié diens verlaat en min van dié poste word weer gevul. Dit is dikwels mense met heelwat ervaring wat loop omdat hulle weens regstellende aksie nie bevorder word nie.
Hy het die afskaffing van die kommandostelsel gekritiseer en gesê dit is 'n voorbeeld van die ANC wat een ding sê, maar die teenoorgestelde doen.
14 Maart 2003Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24