|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 15:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Die landbou kan nie meer op die Regering staatmaak om onder meer strukture vir gehaltebeheer en die opening van markte daar te stel nie.
Dr. Theo de Jager, ondervoorsitter van Agri SA, het op die Inmaak-vrugte-produsentevereniging (IPV) se jaarvergadering op Worcester gesê “die staat gaan ons nie help om ons lande gelyk te dis nie”.
“Wat ons nie vir onsself gaan doen nie, gaan nie gedoen word nie,” was sy boodskap aan sowat 120 Wes-Kaapse vrugteboere.
Kundigheid ontbreek
“Die staatsdepartemente funksioneer al jare lank nie meer op al hul silinders nie. Baie van die masjiene het al gaan staan. Ons is verby die punt waar die departemente die kundigheid het om te doen wat broodnodig is. Ons is nou in die era waar ons weet dat dit wat nie in ons eie strukture gedoen word nie, gaan nie gedoen word nie.”
Hy het ’n beroep op boere gedoen om hulself te organiseer en strukture só te vorm dat hulle take kan oorneem wat tradisioneel deur die staat verrig is. De Jager het die boere herinner dat die Suid-Afrikaanse landbou onlosmaaklik deel is van die res van Afrika.
“Selfs as ons voedselsekerheid in ons land verskans is en elke Suid- Afrikaner kry elke dag goedkoop kos om te eet, is ons nog nie naby ’n oplossing nie. Dan gaan ons ’n instroming van ons buurlande sien. Die behoefte is nie net vir Suid-Afrika nie, maar vir die hele streek waarin ons bly.”
Regering hét boere nodig
De Jager sê dit lyk darem asof die Regering deesdae begin besef “Suid-Afrika het die boere meer nodig as wat die boere Suid-Afrika nodig het”. Dit volg nadat die florerende koffie- en teebedryf byna oornag sy wortels in Suid-Afrika opgetrek en hulle in Kenia en Uganda gaan vestig het.
Hy waarsku dat die piesangbedryf dieselfde pad loop met al hoe meer boere wat eerder kans sien om in Mosambiek piesangs te produseer.
Lees hier meer oor Suid-Afrikaanse boere se bedrywighede in Mosambiek.
14 Junie 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)