|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 15:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Die land se rykste boere het verlede jaar hul geld uit vee en verwante produkte gemaak en in 'n veel mindere mate uit oesgewasse.
Dié inligting blyk uit Statistieke SA se jongste voorlopige resultate vir die 2005 landbou-opname. In opvolg van die landbousensus in 2002, wat in 2004 bekend gemaak is, doen SSA nou 'n jaarlikse landbou-opname.
Mnr. Moses Mnyaka, projekleier by SSA, het op die bekendmaking van die inligting in Pretoria gesê die rede vir die jaarlikse opname is die behoefte aan meer tydige inligting. Hy sê die Regering en verskeie navorsingsinstellings benodig die inligting.
Luidens die jongste opname was daar 7 687 plaas-eenhede, wat een of meer plase kan wees, elk met 'n omset van R2 miljoen en meer vanaf 1 Maart 2004 tot 28 Februarie 2006 in die land. Die totale bruto boerdery inkomste vir dié grootskaalse plase het in die oorsigtyd R51 miljard beloop. Hiervan word R24,2 miljard (47 %) toegeskryf aan inkomste uit diere en diereprodukte. Tuinbouprodukte het vir 'n bruto inkomste van R15,6 miljard gesorg (31 %) en oesgewasse vir R10,7 miljard (21 %).
In dieselfde tyd het die topboere verliese van R789,7 miljoen gely weens onder meer vloede, droogte en diefstal van gewasse, toerusting, vee en masjinerie.
Die bekendmaking van die inligting het nie sonder kritiek verloop nie. Die jongste landbousensus sê altesame 614 962 mense werk in die landbou. Mnr. Kobus Kleynhans, Agri SA se direkteur vir arbeid, sê dié syfer is teenstrydig sover dit arbeidsyfers betref. Drie weke gelede het SSA bekend gemaak sowat 1,3 miljoen mense werk in die landbou. Dié inligting is vervat in 'n verslag oor die werkmag in die totale ekonomie. 'n Senior amptenaar van SSA het toegegee die twee stelle syfers skep verwarring.
Daarby het nog 'n kenner gesê dit is kommerwekkend dat die opname meer as 80 % van die boere in die land nie by die opname ingesluit is nie omdat hul omset kleiner as R2 miljoen is. Die jongste landbousensus het getoon sowat 50 % van die land se 45 818 plaas-eenhede het 'n omset van ongeveer R300 000 per jaar en minder gehad.
Mnyaka sê die 2006 landbou-opname, wat reeds gedoen word, sal die afsnypunt verhoog na boere met 'n omset van R3 miljoen. Hy sê dié boere beslaan wel 'n klein deel van die totale aantal boere in die land, maar hulle verteenwoordig die grootste persentasie bruto inkomste. Met die fokus op dié boere is die doel om vas te stel wat die belangrikste dryfvere in die landbou is, sê Mnyaka.
Landbouweekblad, 12 Januarie 2007
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24