Agriwiki

Trekkerwerf

Hunter & Jagter

Farming SA

Landbou se skuldlas groei

 

Die totale skuldlas van die landbou was in 2003 nagenoeg R30,9 miljard — 9,4 % hoër as die R28,2 miljard in 2002, sê me. Martina Benadé van Agri SA se afdeling Ekonomie en Handel.


Die skuld aan die Land Bank, handelsbanke en koöperasies het onderskeidelik R7 560 miljoen, R13 854,1 miljoen en R3 856,8 miljoen beloop.


Benadé sê die skerp toename van 25,6 % in die totale bedrag verskuldig aan handelsbanke (dit het van R11 027,1 miljoen in 2002 tot R13 854,1 miljoen in 2003 gestyg) staan in skerp kontras met die skuld aan die Land Bank wat afgeneem het van R7 931,1 miljoen tot R7 560 miljoen. Die redes hiervoor is nog onduidelik.


Terselfdertyd waarsku me. Venete Klein, hoofbestuurder van Absa AgriBesigheid, boere om vroegtydig hul kontantvloeibegrotings drasties te hersien en hul finansiële behoeftes te bepaal om die uitwerking van die knellende droogte en die vooruitsig van 'n swak landboujaar met welslae te bestuur.


Daarna kan produsente en banke eers sinvol die alternatiewe bespreek wat beskikbaar is. Daar is nie een oplossing vir alle produsente se probleme nie.


Van die opsies wat oorweeg kan word, is die konsolidasie van korttermynskuld, die herskedulering van paaiemente of die spesifieke vervangingsbeleid ten opsigte van voertuie, trekkers en werktuie wat gevolg behoort te word.


Klein sê die bank het reeds gebiede geïdentifiseer wat deur die droogte geteister word en monitor die situasie noukeurig. Produsente word bygestaan om hul finansiële posisie te herevalueer en te herstrutureer.


"Die toepassing van gesonde finansieringsbeginsels bly die grondslag vir enige onderneming. Dit is noodsaaklik om die risikodravermoë van die boerdery in die goeie jare te verhoog deur reserwes te bou wat as verskansing dien in moeilike jare," sê Klein.


5 Maart 2004

0