|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 15:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
"Ons moet daarteen waak om 'n eiland-mentaliteit te ontwikkel. As ons nie op die speelveld is nie, gaan ons toelaat dat ons vyande vir ons besluit. Om die landbou sy regmatige plek te gee, moet ons betrokke wees waar besluite geneem en beleid gemaak word.
"Landbouers is nie magteloos om Suid-Afrika se toekoms te verander nie. Ons moet onsself en die landbou vernuwe, en nie vasklou aan uitgediende praktyke en denkrigtings nie," het mnr. Carl Opperman, hoofbestuurder van Agri Wes-Kaap, op die Robertson-Landbouvereniging se jaarvergadering gesê.
Hy sê die Regering se vermoë om diensstandaarde te handhaaf, neem af. "Ons moet betrokke raak by grondhervorming, self deelneem om mense te vestig en te help om in die ekonomiese ketting in te kom - nie môre nie, vandag. Die landbou moet met eie inisiatiewe tot grondhervorming toetree, want om vir die staat te wag, gaan tot chaos lei."
Mnr. Opperman het gesê landbouers moet betrokke raak by plaaslike regering en die landbou se behoeftes onder die breë publiek en sakegemeenskap se aandag bring. "Ons moet weet wat aan die gang is op plaaslike owerheidsvlak. Ons kan nie toeskouers wees nie. As ons nie gaan deelneem nie, gaan ons agterbly.
"U moet seker maak dat u insae en verteenwoordiging by u plaaslike owerheid kry. Daar moet volgehoue kommunikasie wees. U kan nie toelaat dat ander mense namens u besluite neem nie."
Hy het gesê die georganiseerde landbou maak 'n groot verskil in arbeid en opleiding, die ekonomie, tegnologie en veiligheid. Al dié pogings kan net slaag as almal verteenwoordig word en die landbou op verenigingvlak reg georganiseer is.
'n Welvarende landbou word bepaal deur 'n landbou-vriendelike beleidsraamwerk, infrastruktuur, belastingbeleid wat entrepreneurskap bevorder, tariefbeskerming en wetgewing wat die landelike omgewing en plattelandse gemeenskappe veilig hou. Struikelblokke en probleme moet voortdurend onder die Regering se aandag gebring word.
20 September 2002
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24