JAN CILLIERS
Senwes se lede het op 'n buitengewone vergadering van Senwesbel wat deur Landboulex versoek is, met 'n volstrekte meerderheid besluit dat mnr. Japie Grobler, voorsitter, en sy direksie moet aanbly en voortgaan met die omdraaiproses van dié landboumaatskappy.
Mnr. Japie Grobler het ná die vergadering gesê die stempersentasie was 66 %. Altesame 79 % van dié stemme was teen die voorgestelde besluit om Senwesbel se direksie voor die verstryking van hul termyn uit hul ampte te verwyder. Mnr. Grobler het dit bestempel as 'n mosie van vertroue in die direksie sowel as in die omdraaitydperk wat in 2000 van lede versoek is ná die aanstelling van die huidige direksie.
"Dit is ook bemoedigend dat boere en aandeelhouers wat belang stel in voortgesette besigheid met Senwes en wat gesonde sakebeginsels nastreef, die versoek tot inmenging verwerp het," het hy gesê.
Mnr. Johan Dique, besturende direkteur van Senwes, het gesê dié sein is versterkend en dit sluit aan by die groeiende, hoopvolle ingesteldheid oor Senwes se toekoms. Dit behoort verder bevestig te word met die bekendmaking van die halfjaar se resultate in Desember.
Mnr. Willie Labuschagne, voorsitter van Landboulex, het egter nog bedenkinge oor die geldigheid van sommige van die volmagte wat die direksie van Senwesbel ingedien het. Landboulex het volmagte vir 18 miljoen stemme ingedien -- dit verteenwoordig meer as 2 000 aandeelhouers. Van dié volmagte is 5 miljoen nie deur Senwesbel aanvaar nie.
Senwesbel se direksie het, volgens mnr. Japie Gouws, direkteur finansies van Senwes, volmagte vir 52 miljoen stemme gehad. Hy het daarop gewys dat 'n onafhanklike ouditeursfirma, Delloitte & Touche, die volmagte nagegaan het en oor die stemproses gewaak het. Volgens dié onderneming was alles volgens wet.
Mnr. Labuschagne meen egter dat nie aan al die vereistes van die Maatskappywet voldoen is nie. Die volmagte word weer nagegaan deur 'n ouditeursfirma waarna hy oor sy volgende stap sal besluit.15 November 2002