|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 15:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Geen landbouplan kan slaag as daar nie genoeg geld vir navorsing nie. As 'n land agter raak met navorsing, raak sy landbou agter. In Afrika gaan mense van honger dood weens gebrekkige landbounavorsing om voedselsekerheid te verseker.
Só sê mnr. Johan Gelderblom, Wes-Kaapse Minister van Landbou, Toerisme en Dobbelary. Hy het onlangs lede van die Durbanville-Landbouvereniging oor navorsing in die provinsie toegespreek.
Hy sê navorsing is een van die hoofprioriteite in sy departementele begroting vir die 2002/3-boekjaar. Daarin is R14,3 miljoen vir navorsing bewillig, wat R1,5 miljoen meer is as in die vorige jaar. Navorsing en ontwikkeling van die voorste tegnologie is noodsaaklik om die provinsie se landbou mededingend te hou. Die Wes-Kaap is vir 55 % tot 60 % van Suid-Afrika se landbou-uitvoer verantwoordelik en lewer 20 % van die totale landbouproduksie.
Boere moet hul stem duideliker laat hoor oor wat hul navorsingsbehoeftes is. Navorsing wat op 'n rak gaan lê is 'n vermorsing van skaars bronne. Dit moet relevant en prakties toepasbaar wees.
Mnr. Gelderblom sê die provinsie fasiliteer sekere navorsing, byvoorbeeld dié wat die Landbounavorsingsraad doen.
Eie navorsing kan in twee kategorieë verdeel word. Die eerste is navorsing om knelpunte in bestaande bedrywe op te los. Die Landboukollege Elsenburg doen tans navorsing oor dierevoeding, diereteelt, bewaringsbewerking en oesbeskerming. Sommige van hierdie navorsing word finansieel deur bedryfsinstansies ondersteun.
Die tweede kategorie is navorsing na nuwe geleenthede vir boere. Waarskynlik die belangrikste daarvan vir die Wes-Kaap is agri-toerisme. Die kollege doen ook navorsing na akwakultuur, alternatiewe gewasse en organiese produksie. Op die gebied van landbou-ekonomiese navorsing het mnr. Gelderblom die kollege gevra om 'n volledige studie te doen oor nismarkte wat vir die provinsie se boere beskikbaar is.
Hy sê die landbou kan nie die toekoms gefragmenteerd ingaan nie. Hy vra boere om by Agri Wes-Kaap aan te sluit. Hy praat gereeld met dié organisasie oor die kwessies wat boere pla.
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24