|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 15:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Die Wes-Kaap kanidate vir Landbouskrywers SA se Boer, Landboukundige en Opkomende Boer van die Jaar is Vrydagaand op ‘n onthaal in die Paarl aangewys. Hulle is onderskeidelik mnr. Bernardt du Toit, prof. Chrisjan Cruywagen en me. Wadea Jappie.
Mnr. Bernardt du Toit van die Langrivier Boerdery (Edms.) Bpk. in die Koue-Bokkeveld is die Wes-Kaapse Boer van die Jaar.
Du Toit het sy boerdery, ‘n eenmansaak sedert 1988, onlangs in ‘n maatskappy met ‘n omset van bykans R50 miljoen per jaar omgeskakel.
Langrivier is ‘n uitvoerboerdery wat sagtevrugte (appels, pere, nektariens, kersies, pruime, desertperskes, appelkose en interspesie-kultivars) op 240 ha, uie op 110 ha, aartappels op 100 ha en broccoli en kool op 20 ha verbou. Dit is alles onder besproeiing. Koring word op 150 ha droëland verbou. Die veefaktor bestaan uit 1 500 Merino-skape en 60 Angus-beeste.
Die onderneming voer self 8 000 ton vrugte (40% van die oes) per jaar uit na Brittanje. Sy handelsmerke is danksy Colors, Dole, Capespan en Mack Multiples ook op winkelrakke in Kanada, Europa, Spanje, Duitsland, Rusland, die Verre- en Midde-Ooste, Singapoer en Hongkong te vind.
Die boerdery het ‘n kontrak om blomkool en broccoli aan groot kettingwinkelgroepe te lewer en het kontrakte met Lambertsbay Foods en Simba wat die aartappels koop. Langrivier is ‘n geregistreerde moerkweker.
In die grootste swart ekonomiese bemagtigingstransaksie tot dusver in die Wes-Kaapse landbou het 242 plaaswerkers op 1 Oktober 2008 mede-eienaarskap van die boerdery verkry. ’n Derde van dié onderneming behoort nou aan heeltydse en seisoenale plaaswerkers. Die transaksie het meer as R50 miljoen beloop.
Prof. Chrisjan Cruywagen is die Wes-Kaapse Landboukundige van die Jaar.
Hy word beskou as internasionale spesialis as dit kom by navorsing oor die chemiese stof melamien. Hy is tans die hoof van die melamien-navorsingspan aan die Universiteit Stellenbosch. In 2008, met die melamien-besmette poeier wat in China gevind is, was tekens van melamien ook in melk van Suid-Afrikaanse melkkuddes te bespeur.
Cruywagen en sy span het ‘n groot deurbraak gemaak toe hulle in dié tyd bewys het dat melamien nie by die melk gevoeg is - soos in China gebeur het - nie, maar dat dit oorgedra is deur die melk van koeie wat voer gevreet het wat met melamien besmet was. Dit was die eerste wetenskaplike bewys in die wêreld dat melamien van voer aan melk oorgedra kan word.
Cruywagen en sy span het ook bewys dat melamien maklik ingeneem kan word en dat die belangrikste uitskeidingsroete deur die niere is. Hulle het bevind dat die vleis en eiers van diere wat melamien ingekry het, ook melamien bevat en dat dit deur gras geabsorbeer kan word as dit deel is van ‘n kunsmisbestanddeel is.
‘n Samevatting van Cruywagen se navorsing oor melamien was een van net agt soortgelyke werke wat gekies vir die spesiale voorlegging oor nuwe navorsing en navorsing aan die voorpunt van die bedryf op die openingsdag van die gesamentlike vergadering van die Amerikaanse Melkwetenskapsvereniging, die Amerikaanse Vereniging vir Dierewetenskap en die Kanadese Vereniging vir Dierewetenskap wat in Julie in Montreal gehou is
Me. Wadea Jappie is die Wes-Kaap se Opkomende Boer van die Jaar.
Sy het haar kleinhoewe in 2003 gekoop en besluit om met lêhoenders en groente te boer. Sy het begin met 50 hoenders en vandag kry sy 21 000 eiers per week van 3 700 hoenders.
Sy het eers die eiers aan ‘n paar plaaslike bakkerye, familie en vriende voorsien, maar binnekort moes sy bemarking begin doen om die ekstra eiers te verkoop. Sy verskaf weekliks eiers aan bekende koffiewinkels, soos Mugg ‘n Bean, Nino’s en Balducci’s in die Kaapstad-omgewing.
Sy het ‘n kontrak met Freshmark, ‘n divisie van Shoprite Checkers, aan wie sy verpakte groente drie keer ‘n week voorsien. Sy voorsien ook vir Cape Salads CC wat weer vir Woolworths slaai verpak, met 5 000 koppe slaai per week. Sy lewer daagliks groente af by die Epping-mark en by ‘n paar Pick ‘n Pay winkels in die omgewing.
Jappie gee heelwat terug aan die gemeenskap. Elke dag gee sy aan die mense van Delft groente wat verkoop kan word as ‘n ekstra inkomste en ook in hul huise gebruik kan word. Sy gee al die gekraakte eiers aan die kosskema in Philippi en in die winter kook sy sop vir die plaaswerkers in die omgewing. Sy skep ook werksgeleenthede deur mense uit die gemeenskap te kry om elke tweede week die hoenderhokke te kom skoonmaak.
19 Oktober 2009
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Wadea Jappie se nommer is: 083 765 1137
ek wil graag met Wadea Jappie in aanraking kom. Kan iemand my help met 'n tel. no. en/of adres.
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)