Langkloof-boere benoud na brande

 

Die skade wat onlangse brande in die Langkloof aangerig het word tans op sowat R20 miljoen beraam. Mnr. Andre de Witt, voorsitter van die Langkloof-boerevereniging, sê 20 ha vrugteboorde en 55 ha denneplantasies het afgebrand.

“Daar is niks wat op daai grond agtergebly het nie. Die bome, die vrugte en die besproeiingstelsels het gebrand.”

“Die vuur het deur die hele Langkloof-gebied beweeg en alles afgebrand wat kon brand,” verduidelik De Witt. Hy het verlede week sy misnoeë teenoor landbou.com uitgespreek oor die brande.

“Dis vir my onverstaanbaar. Ek boer al 39 jaar hier. Eers was dit die oorstromings en die skade wat hulle aangerig het. Toe kom die droogte wat net nie wil breek nie, en nou is dit verskriklike brande.”

Mnr. Leon Kritzinger, De Witt se 80-jarige buurman, se plaas en stoor het ook in die slag gebly. “ ’n Deel van sy stoor het aan die brand geraak en ‘n vragmotor, twee trekkers en twee van sy spuite het uitgebrand.”

Water nou ‘n krisis
De Witt sê as daar nie vandeesweek goeie reëns in die omgewing uitsak nie gaan groot oeste afgeskryf word. “Na die brande is ons watervoorrade bitter min. Ons moet die week reën kry, anders gaan ouens miljoene rande se skade aan hulle oeste lei!”

Hy sê die temperature in die gebied het begin daal. “Tot gister toe was dit nog baie warm hier, maar daar het gistermiddag so 2mm reën geval en daarna is die temperature heerlik koel,”

Mnr. Mbulelo Sogoni, LUR vir landbou en landelike ontwikkeling in die Oos-Kaap, het glo die geteisterde gebied besoek. De Witt sê hy hoop om spoedig die departement se beloofde R26,9 miljoen vir droogtehulp aan die boere te ontvang.

Fondse reeds beskikbaar
Intussen berig Weekend Post boere in die provinsie het verlede week reeds die eerste subsidies vir droogtehulp van die staat ontvang. Die koerant berig dat die bedrag van sowat R27 miljoen na R18 miljoen verminder is.

Landboukenners meen ‘n verdere R51 miljoen is nodig weens die verergering van weerstoestande. Na beraming benodig die Oos-Kaap R93 miljoen om die probleem ten volle aan te spreek.

Meer as 6 000 boere het vir hulp aansoek gedoen, maar slegs 405 kommersiële boere en 2 200 opkomende boere het aan die departement se vereistes vir hulp voldoen.

Lees ook:

Kaapse brande woed voort

16 Februarie 2010

0
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.