Agriwiki

Trekkerwerf

Hunter & Jagter

Farming SA

Langkloof smag na reën

 
Reën. Foto: LEANA ERASMUS
Reën. Foto: LEANA ERASMUS

 “Ons hoor van die ander boere wat baie reën gehad het, maar hier by ons is dit nog baie droog. Ons het die week tussen 6mm en 7mm gehad,” vertel mnr. Andre de Wit, voorsitter van die Langkloof-boerevereniging. 

Luidens ‘n berig van die Suid-Afrikaanse Ramp en Inligtingsdiens is vloedskade by Willowmore in die Oos-Kaap aangerig na sowat 85mm binne ‘n halfuur oor ‘n groot gebied uitgesak het. Kirkwood het sowat 28mm in twee dae aangeteken. 

Oor ‘n groot deel van die provinsie, insluitend gebiede in en om die Graaff-Reinet, Joubertina, Addo en Uitenhage is tussen 9mm en 15mm gemeet. Port Elizabeth het sowat 4mm gehad. Die provinsie gaan die afgelope drie jaar onder erge droogte gebuk.

Lees ook:

Verligting vir Oos-Kaapse boere

Ooraanbod van klein vruggies
De Wit sê die gehalte van vrugte wat in die Langkloof geproduseer is, is tans swak. “Ons volume het met tussen 20% en 30% gedaal, dus is die gehalte swak weens die grootte van die vrugte,” verduidelik hy. 

Hy sê dit het ook ‘n uitwerking op die mark. “Dit het natuurlik ‘n rippeluitwerking. Ons sit tans met ‘n ooraanbod klein vruggies op die internasionale mark en dit plaas ons bemarking onder geweldige druk.” 

Die omgewing het onlangs onder erge brande deurgeloop en volgens De Wit hoop heers daar hoop dat behoorlike reën binnekort sal val. “Die weer lyk elke dag so goed. Elke dag hoop ons vandag is die dag, maar niks kom nie.”

George-omgewing "lyk mooi"
Intussen sê mnr. Stephan Gericke, voorsitter van die George-boerevereniging, dié omgewing toon vinnige herstel na die reën wat twee weke gelede daar uitgesak het. Tussen 50mm en 100mm het oor die omgewing uitgesak nadat ‘n erge droogte die gebied vir meer as ‘n jaar geteister het. 

Gericke sê die watersituasie is egter steeds kritiek en hy hoop dat nog reën binnekort sal val. “Die riviere het vir so vyf dae geloop en van die boere kon van daardie water onttrek, maar die damme is steeds leeg en alles staan weer.”

Volgens Gericke is daar die afgelope week weer temperature so hoog as 40 grade Celsius aangeteken. 

‘n Afvaardiging van die omgewing vergader vandag met die Wes-Kaapse departement van waterwese en volgende week ontmoet die groep met verskeie provinsiale ministers om ramphulp aan die gebied te bespreek. 

Gericke sê hulle wil ook voorkomingsmaatreëls met die ministers bespreek om te verhoed dat so ‘n situasie weer in die toekoms ontstaan. 

12 Maart 2010

0
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.