Die Landboubesigheidskamer (LBK) gaan sy naam behou en nie van Agri SA afstig nie, is verlede week op 'n spesiale vergadering op Stellenbosch bekend gemaak.
"Die LBK is interafhanklik van die verskillende organisasies in die landbou- en sake-omgewing. Ons moet soos 'n skool visse wees. Almal werk saam, almal wei saam," het dr. Tobias Doyer, hoofbestuurder van die LBK, gesê.
Hy sê die LBK sal voortgaan om die beleids-, regs- en sake-omgewing te beïnvloed tot voordeel van sy lede en die ontwikkelingslandbou en swart ekonomiese bemagtiging te ondersteun. Daarby wil die organisasie ook strategiese alliansies met beleidmakers, diensverskaffers, banke en finansiële instansies, universiteite en internasionale groeperings vorm.
Die grondwet wat by dieselfde geleentheid aanvaar is en voorsiening maak vir breër verteenwoordiging, tree dadelik in werking.
In sy boodskap aan die LBK het mnr. Japie Grobler, voorsitter van Agri SA, gesê die waarde van die groter groep in die landbou wat die LBK na die georganiseerde landbou bring, moenie onderskat word nie. Hy het egter 'n beroep op landbou-ondernemings gedoen om ook hul stem oor sake soos die Modderklip-hofsaak te laat hoor en hulself nie skuldig te maak aan "stille diplomasie" ter wille van politieke korrektheid nie.
4 April 2003