|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 15:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Drie kursusse oor die gebruik van die Shepherd-program vir die byhou van kleinveerasse se produksie, word in Februarie by die Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut, naby Middelburg in die Oos-Kaap, aangebied.
Dié program is ontwikkel om kleinveerasse se produksie-aantekening te vergemaklik en stoettelers in staat te stel om die beskikbare inligting van hul diere ten beste te benut.
Die kursus sal ook telers help om inligting reg in te samel sodat dit sinvol gebruik kan word. Die program sal aanvanklik net aan diegene wat die kursusse bywoon, beskikbaar gestel word. Die program kos R1 500 + BTW. Kursusgangers bring hul rekenaars saam en die program word tydens die kursus daarop gelaai. Telers se bestaande inligting kan ook oorgelaai word. As heelwat inligting egter verwerk moet word, sal daar ekstra koste daaraan verbonde wees.
Onderwerpe wat hanteer word, sluit in basiese vereistes vir die byhou van inligting, hoe om verslae en dierkaarte te skep en spesifieke inligting te soek, asook die elektroniese oordrag van inligting.
Stoettelers van alle kleinveerasse sal hierby baat vind.
Die kursus word op 11, 12 en 13 Februarie aangebied. Dit begin om 09:00 en eindig om 16:00. Die registrasiefooi is R100 per persoon of R150 per paar en sluit middagete in. Kursusgangers kan kies op watter dag hulle die kursus wil bywoon. Slegs 20 mense sal per dag kan inskryf.
Die kursus word deur dr. Buks Olivier van die Landbounavorsingsraad aangebied.
Belangstellendes kan bespreek by Joan Oosthuizen, tel. 049 842 1113, faks 049 842 4352 of e-pos: joan@ndagadi.agric.za.
Navrae oor die program: Dr. Buks Olivier, tel. 021 809 3353 of 082 8012025, of e-pos: buks@infruit.agric.za.
27 Desember 2002
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24