Die moratorium op aandeelskemas moet opgehef word sodat Wes-Kaapse plaaswerkers hul deel tot die ekonomie kan bydra, meen lede van die Wes-Kaapse Prestige-plaaswerkerforum.
Dié forum se lede is wenners van die Wes-Kaapse Plaaswerker van die Jaar-kompetisie. Hulle het by me. Helen Zille, DA-leier en premier van die Wes-Kaap, om hulp aangeklop sodat die moratorium opgehef kan word.
Die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming het verlede jaar ’n moratorium ingestel nadat bevind is dat van die projekte nie suksesvol is nie. Slegs nege van die Regering se aandeelskemaprojekte van 88 landwyd het sedert 1994 dividende verklaar.
Die tameletjie in die Wes-Kaap is dat talle projekte reeds goedgekeur was toe die moratorium in werking getree het. Die aandeelskema in dié provinsie het grootliks betrekking op begunstigdes van grondhervorming in die wynbedryf.
Mnr. Jaffie Galant, een van die forumlede en plaasbestuurder van Bronaar in die Koue-Bokkeveld, sê dat hulle sterk oor bemagtiging in die landbou voel en dat die moratorium hulle ernstig benadeel. Met die samewerking van kommersiële boere en die werkers kan die skema met welslae bestuur word.
28 Julie 2010
Kommentaar
Die Landboubesigheidskamer (LBK) het Dinsdag (27/7/2010) by BUSA die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming aangehoor in sy voorlegging oor verskeie aspekte. Die LBK het spesifiek die vraag aan hom gestel oor die lig van die moratorium wat geplaas is op die plaas werker aandeelskema. Die Departement het huidiglik 'n tender proses aan die gaan om 'n eksterne entiteit aan te stel om die hersiening van die skema te doen. Die DDG, Mr Tozi Gwanya, het die LBK, na aanleiding van die navraag daaroor, amptelik ingelig dat daar verskeie probleme ervaar is met die skema, maar dat as 'n voorstel gemaak kan word, wat die probleme aanspreek en die skema beter kan laat werk, sal hulle dit oorweeg om dit onmiddelik te lig.
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)