|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 16:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 63% |
| Wind: |
Georganiseerde landbou-organisasies glo die vergadering met vakbonde en ander belangegroepe oor die sektorale vasstelling, wat deur mnr. Membathisi Mdladlana, Minister van Arbeid, gereël en ingelei is, het die weg gebaan vir 'n ooreenkoms oor die inwerkingstelling van minimum lone.
Op die vergadering is besluit 'n taakspan onder voorsitterskap van mnr. Edwin Molahleli, direkteur van die Kommissie vir Konsiliasie, Mediasie en Arbitrasie, sal binnekort geskrewe standpunte oor die hantering van knelpunte oorweeg.
Die byeenkoms het gespanne begin met mnr. Mdladlana wat gesê het hy het inligting dat Agri SA boere ontmoedig om die wetgewing toe te pas, hangende regsadvies oor hoe die implementering vertraag kan word.
Hy het ook gesê hy hy wil nie aan die bespreking deelneem nie aangesien hy agterna onbevange as arbiter moet kan optree indien geen ooreenkoms bereik word nie. Indien 'n ooreenkoms bereik kan word, sal hy daaraan gehoor gee.
Verteenwoordigers van Agri SA, TLU SA, die Landbouwerkgewersorganisasie (LWO) en die Wes-Kaapse Sagtevrugte-produsente Werkgewersorganisasie het op die vergadering 'n gesamentlike voorlegging oor boere se probleme met die sektorale vasstelling gedoen.
In 'n verklaring sê hulle die landbouwerkgewers se standpunt dat hulle die werklikheid van 'n sektorale vasstelling aanvaar en dat dit oor die werkbaarheid en die uitskakeling van nadelige gevolge gaan, is as 'n belangrike vertrekpunt vir verdere onderhandelings aanvaar.
Aspekte soos 'n te kort infasseringstyd vir sowat 50 000 boere om honderdduisende nuwe werkerkontrakte te beding, onsekerhede en probleme met die tweevlak-minimumloon van R650 en R800, die vasgestelde eskalering van die vasstelling vir die volgende twee jaar, die reëling dat meer as 27 werkure per week gelyk gestel word aan voltydse werk, die beperkte erkenning vir in-naturavergoeding en die administratiewe reëlings in verband met die aansoek vir 'n ander bedeling vir boere wat nie die minimum lone kan bekostig nie, is van die belangrikste knelpunte.
Volgens die landbouverteenwoordigers het vakbonde te kenne gegee dat hulle die werkgewers se voorbehoude nou beter verstaan. Daar was ook eenstemmigheid dat die kwesbaarheid van landbou-arbeid altyd voor oë gehou moet word wanneer aanpassing oorweeg word.
Die verteenwoordigers het hul erns met die onderhandelings beklemtoon, maar het aangedring dat sake bespoedig moet word sodat die werkgewer-werknemerverhouding op plase gestabiliseer kan word.
9 Mei 2003Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24