|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 16:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 63% |
| Wind: |
Die nuwe onteieningsmagte wat me. Thoko Didiza, Minister van Landbou en Grondsake, kry met die aanvaarding van die Wysigingswet op die Herstel van Grondregte deur die Parlement, sal nie die afhandeling van grondeise bespoedig nie. Daar is burokratiese en wetlike prosesse wat mense wat daardeur geraak word, kan volg.
Só meen mnr. Lourie Bosman, voorsitter van Agri Suid-Afrika se grondsakekomitee. Hy meen dit is onvanpas om op hierdie wyse en tydstip vir onteiening voorsiening te maak terwyl daar genoeg en aanvaarbare meganismes was om grondherstel teen 2005 daarsonder af te handel. Binne 'n Afrika-konteks stuur dit die verkeerde boodskap uit wat skadelik vir vertroue is, het hy gesê.
Hy is bekommerd dat die onus nou op grondeienaars geplaas word om die geldigheid van eise teen te staan, terwyl die bewyslas eers by die staat berus het. Voorts kry die minister nou onteieningsmagte deur middel van 'n administratiewe proses terwyl eise tot dusver in die Grondeisehof besleg is, waar boere dit kon teenstaan.
Nog 'n kwelling is dat die Wet op die Herstel van Grondregte vir die onteiening van grond gebruik kan word, selfs waar 'n grondeis misluk het, het mnr. Bosman gesê.
Mnr. Willie Lewies, adjunkvoorsitter van die TLU SA, is geskok dat die Parlement die wetsontwerp goedgekeur het nadat verwag is dat dit vroeg aanstaande jaar eers gedebatteer sou word. Dit is ewe skokkend dat die parlementêre goedkeuring gegee is terwyl pres. Thabo Mbeki uit die land was.
"Die ekonomiese vertroue wat deur die goedkeuring van die wetsontwerp benadeel word, sal Suid-Afrika waarskynlik op dieselfde pad as Zimbabwe plaas. Voedselsekerheid in Suid-Afrika is skynbaar nie oorweeg nie."
Hy het gesê die TLU SA is besig met beplanning om die eensydige opskorting van wettige eiendomsreg teen te staan. "Ná gesprekke met ander betrokkenes in die georganiseerde landbou en die Suid-Afrikaanse Polisiediens verlede maand, vertrou die TLU SA dat pres. Mbeki ingelig is oor die implikasies van onwettige grondbesettings en betreding en dat hy aanspreeklikheid vir die ekonomiese en veiligheidsgevolge sal dra."
12 Desember 2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24