Mark se direksie bedank onder wolk

 

Die Johannesburgse varsproduktemark se hele direksie het onverwags onder 'n wolk bedank nadat hulle en die Johannesburgse metroraad, as enigste aandeelhouer, glo nie eenstemmigheid oor die pad vorentoe kon bereik nie.

Die metroraad het in 'n verklaring gesê hy en die direkteurs van die mark het "ooreengekom" dat 'n nuwe direksie aangestel word. Die direkteurs wat bedank het, sluit mnre. Jafta Sibiya, Bonile Jack, Philé van Zyl en Mark Israelson in.

Volgens senior markamptenare was die verhouding tussen die direksie en die metroraad swak. Die mark het glo te onafhanklik na die raad se sin opgetree en het na bewering bestuursinligting weerhou. Daar was glo geen eenstemmigheid oor 'n toekomstige strategie en visie nie en dit was onvermydelik dat die paadjies moes skei.

Die metroraad sê in sy verklaring "ná oorweging van die direksie se werk oor die afgelope jaar en 'n half, waarin die mark beter gepresteer het en hervorm is, het ons gesamentlik besluit die tyd het aangebreek om 'n nuwe direksie aan te stel."

Mnr. Sibiya het in reaksie gesê die hele geskil is "polities" en het niks met die direksie se werkverrigting te doen nie. Hy sê in die jaar en 'n half wat die direksie betrokke was, het die omset geklim van R1,1 miljard tot R1,4 miljard en die wins van R19 miljoen tot R35 miljoen.

Die Johannesburgse mark word ten volle deur die Johannesburgse metroraad besit en sy onafhanklike raad van direkteurs word deur die metroraad aangestel.

0