|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 16:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 63% |
| Wind: |
Hoewel Suid-Afrika 'n bietjie meer geld op navorsing bestee as 'n paar jaar gelede, is dit steeds minder as in 1991, sê mnr. Mosibudi Mangena, die Minister van Wetenskap en Tegnologie.
Mangena het in die Nasionale Vergadering se debat oor die begrotingspos Wetenskap en Tegnologie gesê om wetenskap en tegnologie in die land te laat werk, is dit eerstens nodig om in die stelsel te belê.
Die land se besteding op navorsing en ontwikkeling het van 1,04 % van die bruto binnelandse produk (BBP) in 1991 tot 0,69 % van die BBP in 1997 geval, hoofsaaklik weens besnoeiings op militêre besteding deur die Regering. Die jongste syfer vir die boekjaar 2001/02, toon 'n effense toename in besteding tot 0,76 % van die BBP.
Die Regering se mikpunt is 1 % van die BBP. Mangena raam die land kort sowat R2 miljard per jaar om hierdie teiken te bereik. Hiervan moet die helfte van die staat kom en die ander helfte van die private sektor. Die Departement van Wetenskap en Tegnologie het vanjaar vir 'n verhoging van R1 miljard in sy begroting gevra, maar net R122,8 miljoen ekstra gekry. Sy begroting beloop nou sowat R1,28 miljard.
Een van die instellings wat onder die begrotingspos val, maar nie deel van die departement is nie, is die Landbounavorsingsraad. Sy toekenning is van R289 miljoen verlede jaar tot R347,74 miljoen vanjaar verhoog. Teen 2006/07 behoort sy toekenning R405,44 miljoen te wees.
Altesame R137 miljoen van die departement se begroting van R,28 miljard word vir die implementering van die Nasionale Biotegnologiestrategie opsy gesit.
Die tweede noodsaaklike element van 'n gesonde stelsel is menslike hulpbronne, sê Mangema. Dit is vir die departement 'n groot uitdaging om genoeg jong mense, veral dié uit voorheen benadeelde groepe, in loopbane in die wetenskap, ingenieurswese en tegnologie te laat belang stel. Die jaarlikse Nasionale Wetenskapweek en die program Sentrums van Uitnemendheid is van die maniere waarop hy dit probeer regkry.
2 Julie 2004Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24