Boere het 'n hoë prys betaal deur beheer oor die suiwelbedryf vir geldelike voordeel in die kort termyn in die hande van buitelanders te plaas, sê dr. Kraai van Niekerk, DA-woordvoerder oor landbou.
'n Les is geleer. Boere het 'n hoë prys betaal deur beheer oor die suiwelbedryf vir geldelike voordeel in die kort termyn in die hande van buitelanders te plaas, sê dr. Kraai van Niekerk, die DA se woordvoerder oor landbou, in die party se jongste nuusbrief.
Die oplossing is om na die bekende weë van vorige jare terug te keer. Produsente moet begin saamwerk, en moet van voor af begin deur hul eie koöperasies en maatskappye te skep, of bestaande entiteite uit te koop sodat produsente weer eens beheer oor hul eie bedryf kan kry.
Sestig jaar gelede was daar meer as 80 000 melkboere in Suid-Afrika. Nou is daar omtrent 3 000 oor.
"Die suiwelbedryf het met tyd verander van agterplaasboerdery, wat vir plaaslike verbruikers geweldige tekorte meegebring het, in 'n nywerheid wat Suid-Afrika se behoeftes tans bevredig.
"In die afgelope klompie jare het talle suiwelboere egter hul aandele in die suiwelkoöperasies waaroor hulle beheer gehad het, verkoop, en hulle suiwer daarop toegespits om nét melk te produseer. Nie-landbouers en selfs buitelanders het beheer oor bemarking in die suiwelbedryf oorgeneem, en melkprodusente het prysnemers geword sonder om werklik by die toevoeging van waarde by hul produkte te baat.
"In dié vrye mark het mededinging strawwer geword, en al hoe meer instansies voer goedkoop suiwelprodukte in. Onsimpatieke direksies van maatskappye wat melk koop, en 'n regering wat traag is om hierop te reageer, skep selfs meer druk op die produsenteprys van melk, sê Van Niekerk.
Gevolglik het al hoe meer melkprodusente - tot vier per maand - die bedryf verlaat, en die ongeveer 3 000 produsente wat oorgebly het, moet al hoe meer produseer om aan Suid-Afrika se behoeftes te voldoen. Werkgeleenthede het minder geword, en Suid-Afrika se invoerrekening styg weens die land se al hoe groter afhanklikheid van ingevoerde produkte.
Dit is 'n ernstige slaggat waarin Suid-Afrikaanse suiwelboere geval het.
27 Augustus 2008