|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 16:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 63% |
| Wind: |
As wydverspreide reën nie binnekort uitsak nie, hou dit niks goed in vir die mielieproduksiegebiede in die somersaaigebied nie, sê mnr. André Ferreira van Graan Suid-Afrika.
Hy sê daar is veral kommer oor die jonger gesaaides in Noordwes. "Die moontlike opbrengs is beslis laer as 'n maand gelede en minstens 25 mm tot 30 mm reën is nodig om verdere agteruitgang te stuit."
Mnr. Bully Botma, voorsitter van Graan SA, sê daar is 'n dramatiese afname sedert die oesskatting in Februarie. "In die suidelike en oostelike deel van die Vrystaat is daar ongelooflik baie skade. Reën gaan niks aan die situasie verbeter nie, dit sal net keer dat nog skade aangerig word. Boere in Schweizer-Reneke se wêreld het al meer as 30 % skade gehad en sê hulle verwag die swakste oes in agt jaar. Saam met die swakker prys is dit geen goeie nuus vir boere nie."
Mnr. Willie Auret, hoof uitvoerede beampte van Agri Noordwes, sê gesaaides in dié provinsie is onder groot druk, hoewel weiding vir vee nog betreklik goed is.
"Die klimaattoestand is kritiek oor die hele Noordwes en daar word gevrees die grootste deel van die oes is moontlik daarmee heen. Daar is kolle wat al soveel droogteskade het dat reën nie meer veel gaan help nie."
Boere meen daar kan 'n drastiese afname in die oes wees en die opbrengs kan 20 % tot 25 % laer wees as wat geskat is. In Mpumalanga en Gauteng is oeste weens laat aanplantings nog onseker. In gebiede om Leandra kom groot skade voor en is die verwagte oes sowat 40 % tot 50 % laer as verlede seisoen.
Waar die vorige skatting op 8,8 miljoen ton staan, is die verwagting nou dat die oes nie 8 miljoen ton gaan haal nie. Die oordragvoorraad sal egter daarvoor sorg dat die totale oes na verwagting op sowat 9 miljoen ton te staan sal kom.
28 Maart 2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24