|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 16:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 63% |
| Wind: |
Internasionaal: Bronne in Amerika verwag dat aanplantings verlede week sowat 12 % tot16 % voltooi sal wees teenoor die gemiddelde pas van 10 %. In sommige gebiede heers kommer oor die grondvog. Die huidige beter pryse van sojabone vergeleke met mielies kan meebring dat hektare vir mielies in die Suidooste verlore kan gaan. Die meeste belanghebbendes in Amerika se aanplantingsyfers verskil nie veel van dié land se landboudepartement se skatting van 31,9 miljoen hektaar nie. Die uitvoerverkope van mielies in Amerika strook met die verwagtinge en Japan was die grootste koper. 'n Daling van sowat 5,3 miljoen ton in mielie-uitvoer word egter vanjaar verwag en die kumulatiewe verskepings is 17 % laer as verlede jaar. Die prys van mielies het effens verbeter vanweë die styging in die prys van sojabone.
Plaaslik: Die oesskatting van 23 April is sekerlik die belangrikste skatting van die seisoen -- grootliks as gevolg van die huidige onsekerheid in die mark. Die inligting wat verlede maand oor die oes bekend gemaak is, het groot onsekerheid gebring. As gevolg daarvan word 'n vraagteken geplaas oor die korrektheid van die vorige seisoen se syfers en 'n regstelling word in die huidige seisoen verwag. Daar is tans ook taamlik teenstrydige boodskappe oor die situasie in Zimbabwe. Dit wissel van 'n tekort van sowat 1 miljoen ton tot voldoende binnelandse produksie. Die nuus oor die oes in die Noordweste is nie goed nie en volgens Graan SA is die toestande van die oes in sekere dele die swakste in die afgelope 7 tot 12 jaar. Intussen sit boere met onverkoopte mielies wat nie tot hoër pryse bydra nie.
KORING
Internasionaal: Die vooruitsigte vir die 2003/04-koringoes in Amerika is baie belangrik. Die situasie met winterkoring sal in 'n groot mate deur 'n taamlike toename in die produksie van harde rooi koring teenoor die huidige seisoen, beïnvloed word. Die produksie van sagte rooi koring, asook wit winterkoring, kan styg, maar harde rooi koring behoort uit te staan. Daar is twee redes vir dié toename. Die lae opbrengs van die huidige seisoen is een rede en die huidige vooruitsigte is betreklik goed. Die 2002/03-seisoen se produksie was volgens bronne in Amerika die laagste in dekades en naby rekordlaagtepunte. Die nuwe oes daarenteen kan een van die beste in jare wees as die huidige toestande sou voortduur. Die produksiesyfers vir die groter harde rooi koring kan eindvoorraad laat styg ondanks 'n toename in die verbruik van harde rooi koring.
Plaaslik: Koringboere in die Wes-Kaap het volgens bronne begin plant en die reën wat tans vir die Wes-Kaap voorlê is belangrik. In die binneland begin planttyd eers oor sowat 'n maand en in die Oos-Vrystaat is die optimum-planttyd eers Julie. Boere is baie onseker oor wat hulle te doen staan, maar dat daar 'n afname gaan wees, is 'n feit. Die tweede skatting van boere se plantvoornemens word volgende maand bekend gemaak en daar kan 'n taamlike afskaling plaasvind. Die internasionale prys word met valkoë dopgehou om te bepaal of aansoek gedoen moet word om die implementering van die invoertarief.
SOJABONE
Internasionaal: In die internasionale mark het bronne die afgelope tyd in 'n groot mate gehamer op die groot Suid-Amerikaanse oes en is weekliks gewys op beter opbrengste. Die ander kant aan die saak is China se vraag na sojabone. China het die afgelope paar maande Amerika se voorraad feitlik heeltemal uitgeput. Intussen word 'n afname in die Suid-Amerikaanse produksiesyfers verwag weens die skade wat in oestyd aan die Brasiliaanse oes aangerig is. Die toename in die prys van sojabone word in 'n groot mate deur die rantsoenering van Amerikaanse sojabone veroorsaak. Aan die ander kant is die stadige pas waarteen Suid-Amerikaanse bone verkoop word. Die verswakking van die dollar teenoor ander geldeenhede maak Amerikaanse bone mededingender.
Plaaslik: Boere het in sekere dele ver gevorder met die oes, maar die groot kopers toon nog nie belangstelling nie en ou voorraad is nog te koop. Kopers bied kontrakte aan wat tans wissel van R1 600/ton tot R1 800/ton. die wisselkoers se rigting is belangrik omdat die grootste deel van die binnelandse verbruik ingevoer word.
SONNEBLOM
Boere het begin stroop, maar daar is nog nie duidelikheid oor die opbrengs en moontlike produksiesyfers buiten die van die Oesskattingskomitee nie. Daar word met verwagting uitgesien na die nuwe syfers. In Argentinië is die toestand van die sonneblomoes, in teenstelling met die sojaboonoes, nie so goed as wat verwag is nie. Ook Bolivië se sonneblomoes was vanjaar 'n teleurstelling.
SORGHUM
Daar is met die oesproses begin, maar dit is te vroeg om kommentaar te lewer. Die oesskatting sal lig werp op die grootte van die oes
GRONDBONE
Die internasionale prys van grondbone het dieselfde gebly. Die verdere verstewiging van die wisselkoers kan uitvoergeleenthede beïnvloed.
VISMEEL
In Peru kan visvangste binnekort begin nadat 'n verbod geplaas is op vangste as gevolg van klein vissies tussen die normale vangste. Aan die eenkant is voorrade taamlik uitgeput, wat die prys kan laat styg. Die vooruitsigte vir groot vangste is egter goed, wat die prys in die teenoorgestelde rigting kan laat beweeg.
KATOEN
Die wisselkoers het verstewig wat die plaaslike prys van katoen verder sou laat daal.
BEESVLEIS
In die week van 18 April het ligte-speenkalfpryse met 3,5 % gestyg. Die mark is baie stil aan aanbodkant, maar die vraagkant toon 'n oplewing. Die verwagting is dat die vraag na speenkalwers gaan toeneem, wat pryse opwaarts kan druk.
Die gemiddelde pryse in die klasse A2/A3 en B2/B3 het onveranderd gebly, gemeet aan die vorige week. Die pryse in die klasse AB2/AB3 en C2/C3 het stygings van onderskeidelik 0,8 % en 2,3 % getoon. In die week van 11 April 13,4 % meer diere as in die vorige week geslag en 21,5 % meer as in die ooreenstemmende week 'n jaar gelede. Die verwagting is dat pryse in die meeste klasse sywaarts sal beweeg, maar weens die kort week word 'n geringe styging nie uitgesluit nie.
SKAAPVLEIS
Die gemiddelde pryse in die onderskeie klasse van skaapvleis het in die week van 18 April geringe stygings getoon vergeleke met die vorige week. Die grootste styging het by die klasse AB2/AB3 voorgekom (2,4 %). Dié pryse was 15,9 % hoër as 'n jaar gelede. In die week van 11 April is 42,5 % minder skape as in die vorige week geslag en 50,7 % minder as in die ooreenstemmende week 'n jaar gelede. Verdere prysstygings word weens die kort week verwag.
VARKVLEIS
Die gemiddelde prys van varkvleis het in die week van 18 April sywaarts beweeg vergeleke met die vorige week en is nog 7,4 % hoër as in dieselfde week 'n jaar gelede. Pryse het met 3,2 % gestyg, terwyl die pryse van spekvarke met 3,6 % gedaal het. In die week van 11 April is 187,9 % meer varke as in die vorige week geslag en 50,7 % meer as in die ooreenstemmende week 'n jaar gelede. Die voorspelling is dat pryse sywaarts kan beweeg.
BRAAIKUIKENS
Die gemiddelde prys van braaikuikens was in die week van 18 April onveranderd vegeleke met die vorige week, en is 2,0 % laer as 'n jaar gelede. 'n Normale aanbod word ondervind. Die verwagting is dat pryse onveranderd sal bly.
VOLSTRUISE
Die broeiseisoen het nou geëindig. Die pryse van 3 maande oue voëls, 6 maande oue voëls en slagvoëls het in die week van 18 April onveranderd gebly. Die pryse van graad 1-velle en vleis is ook onveranderd teenoor die vorige week. Pryse sal waarskynlik onveranderd bly, behalwe dag oud kuikens wat kan daal.
WOL
Daar was geen wolveiling in die week van 18 April nie.
AARTAPPELS
Die prys op die Johannesburgse mark het in die week van 18 April met 5,8 % gedaal vergeleke met die vorige week en is 62,7 % hoër as op dieselfde tyd verlede jaar. Verkope het met 19,1 % afgeneem teenoor die vorige week en is 26,9 % minder as dieselfde week verlede jaar. Voorrade op die markte is normaal en gehalte wissel van redelik tot goed. Pryse kan styg weens die kort weke wat 'n kleiner aanbod meebring.
KOPKOOL
Die gemiddelde prys van kopkool op die Johannesburgse mark het in die week van 18 April met 1,2 % teenoor die vorige week gedaal en is 80,8 % hoër as 'n jaar gelede. Daarteenoor het verkope met 10,8 % gedaal en is 29,2 % minder as in dieselfde week 'n jaar gelede. Gehalte is goed. Hoër pryse word verwag weens die kort weke wat 'n kleiner aanbod meebring.
WORTELS
Die gemiddelde prys van wortels op die Johannesburgse mark het in die week van 18 April met gemiddeld 3,0 % gestyg en die verkope het met 14,4 % afgeneem. Die prys is 4,9 % laer as in dieselfde week 'n jaar gelede, terwyl 22 % meer wortels verkoop is. Gehalte is goed. Pryse kan 'n geringe styging toon.
UIE
Die gemiddelde prys van uie op die Johannesburgse mark het in die week van 18 April met gemiddeld 23,4 % gestyg teenoor die vorige week, terwyl die verkope met 38,4 % afgeneem het. Die prys is 27,7 % hoër as in dieselfde week verlede jaar, terwyl die verkope 29,5 % minder as 'n jaar gelede is. Gegewe die huidige aanbod word verwag dat pryse kan styg.
TAMATIES
Die gemiddelde prys van tamaties op die Johannesburgse mark het in die week van 18 April met gemiddeld 31,4 % gedaal, gemeet aan die vorige week. Verkope het met 10,1 % toegeneem. Die gemiddelde pryse is 81,5 % hoër as in dieselfde week 'n jaar gelede, terwyl die volume verkope 22,3 % minder is. Die laer aanbod word toegeskryf aan die bonormale hitte in die produksiegebiede. Die verwagting is dat die huidige prysvlak in gehandhaaf gaan word.
2 Mei 2003Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24