|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 16:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 63% |
| Wind: |
Planne vorder goed om miljoene rande se vleis en ander produkte van Boer- en Angorabokke na veral die Midde-Ooste uit te voer.
Die Kalahari Kid-korporasie, 'n gesamentlike onderneming tussen die private- en openbare sektor, provinsiale regerings en boere in die Noord- en Oos-Kaap en Noordwes, sê daar word beoog om die produkte van minstens 'n miljoen bokke jaarliks teen 2007 na die Midde-Ooste uit te voer.
Bokvleis wat onder die handelsnaam Kalahari Kid bemark word, word binnelands bemark en al na nege lande uitgevoer. Me. Merida Roets, landboubestuurder, sê die projek is veral op ontwikkelende boere gemik en hulle word as kontrakverskaffers opgelei.
Ontwikkelende boere werk in groepe en 63 koöperatiewe ondernemings is in die Noord-Kaap gevestig. Tien is in die Oos-Kaap werksaam. Kontrakte word met die boere aangegaan om karkasse van 6 kg tot 12 kg by hulle aan te koop aangesien dit die grootte is wat in die Midde-Ooste verkies word.
Dié boere ontvang finansieringshulp en opleiding in alle aspekte van die boerdery. Me. Roets sê die uitvoermark is uiters gesofistikeerd en elke verskaffer moet geregistreer wees om naspeurbaarheid te vergemaklik. Streng maatreëls geld vir die voer en ander middels wat gebruik mag word.
Kommersiële bokboere word ook genooi om as verskaffers deel te neem. Hulle kan ook aandeelhouers word, stoetdiere voorsien en as mentors vir ontwikkelende boere optree.
Me. Roets sê die mark in die Midde-Ooste is sowat 100 miljoen ton per jaar en daar is 'n reuse-mark vir bokvleis in China. Suid-Afrika het sowat 6,9 miljoen bokke waarvan 4 miljoen inheems is.
8 Augustus 2003Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24