|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 16:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 63% |
| Wind: |
Net 30 % van die skaapskeerders wat opgelei word, bly in die bedryf. Dit is een van die grootste probleme in die bedryf wat in 'n opname deur die advieskomitee vir skeer- en wolhantering van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) na vore gekom het.
Dit is waarskynlik omdat dit besonder harde werk is vir relatief min vergoeding. "Een van die knelpunte is dat wolboere die skeerders dikwels nie genoeg skape per dag gee om te skeer sodat hulle meer geld kan verdien nie," sê mnr. Hendrik Botha, voorsitter van die komitee.
Die opname het getoon 'n skeerder kan van 800 tot 20 000 skape in 'n seisoen skeer. Die gemiddeld is 5 155 skape.
Nog 'n groot probleem is dat 68 % van die skeerders burgers van Lesotho is en dat dit elke jaar moeiliker word om werkpermitte vir hulle te kry. Hy het gesê die NWKV beoog om dié skeerders met Suid-Afrikaanse inwoners te vervang, maar dat dit nie maklik is nie.
Opleidingskursusse word in die voormalige Transkei en Ciskei aangebied, maar skeerders in dié gebiede is nie gretig om ver te reis om te gaan skeer nie. "Hulle sien nie kans om drie tot vier maande van die huis weg te wees nie. Dit is iets wat ons sal moet verander," sê mnr. Botha.
Opleiding word verder bemoeilik deur die feit dat daar nie een skeerspan is waarvan elke spanlid op dieselfde opleidingsvlak is nie. Dit beteken dat die opleiding op drie verskillende vlakke aangebied moet word van beginners tot gevorderde vlak. Skeerders skeer ook nie dieselfde lengte wol nie.
Volgens mnr. Botha het die opname getoon dat daar steeds 'n groot behoefte aan opleiding bestaan.
'n Wolkoper, mnr. Derick Pape, sê hy het nie besware dat die bedryf vir die opleiding van beginners betaal nie. As dit egter gevorderde opleiding behels, voel hy die kontrakteur/werkgewer wat só 'n skeerder in diens geneem het, moet daarvoor betaal.
Die opname het ook getoon skaapskeerders se gemiddelde ouderdom is 42 jaar. Die jongste skeerders is 28 jaar oud en daar is selfs skeerders van so oud as 55 jaar.
7 November 2003
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24