Misdaad lol met voedselsekuriteit

 

Landbou-organisasies waarsku dat misdaad in landelike gebiede nie net 'n uiters ongunstige uitwerking op die winsgewendheid van boerdery het nie, maar op die langer duur voedselsekuriteit in die land bedreig.


In reaksie op die kommerwekkende toename in plaasmoorde die afgelope tyd, het Agri SA gesê hy betreur dit veral omdat daar van 2002 tot 2003 'n afname van sowat 20 % was en dit vir 'n tyd lank daarna besonder stil was. Mnr. Kobus Visser, direkteur van owerheidsdienste by Agri SA, sê die toename is onverklaarbaar en dit is moeilik om neigings te bepaal. "Enige plaasaanval is egter een te veel."


'n Werksessie oor die invloed van misdaad op boerdery-bedrywighede is onlangs deur die Nasionale Prioriteitskomitee oor landelike beveiliging gehou. Visser sê by die vergadering het Agri SA beklemtoon dat misdaad nie net landelike stabiliteit bedreig nie, maar die land se ekonomie in sy geheel benadeel.


Hy het onder meer verwys na 5 200 werksgeleenthede in die bosboubedryf wat verlore gegaan het nadat nuwe uitbreidings weens misdaad beëindig is. Verlede jaar het die veebedryf R247 miljoen skade weens diefstal gely en daar is gebiede waar boere glad nie meer vee kan aanhou nie weens die diefstal van heinings en vee.


Gen.maj. Chris van Zyl, bestuurder van landelike veiligheid by die TLU SA, sê die maatskaplike en ekonomiese impak van plaasaanvalle en misdaad is reusagtig. Hy reken sowat 23 000 boere het die afgelope 15 jaar die bedryf verlaat en net sowat 30 000 kommersiële boere moet kos aan sowat 40 miljoen mense voorsien.


Hy sê sedert Januarie het plaasaanvalle beduidend toegeneem. "Die aandag moet egter nie net op geweldsmisdade gevestig wees nie. Terwyl almal daarna kyk, is daar talle ander jakkalsies wat ook die wingerd opvreet."


Hy het verwys na algemene misdaad en diefstal op plase wat kommerwekkend toeneem. "In heelwat gevalle meld boere diefstal nie meer aan nie omdat dit nie ondersoek word nie en bloot 'n inskrywing in 'n boek bly. Soms is dit ook moeilik om eienaarskap van byvoorbeeld diesel of produkte te bewys en soms weet boere nie eers hulle word besteel nie."


Visser sê ondanks die leemtes om aangemelde sake te ondersoek, word boere aangemoedig om dit tog aan te meld. "Dan kan ons die sake ten minste opvolg en 'n mens kry 'n meer realistiese prentjie van misdaad in die onderskeie gebiede."

4 Junie 2004

0