Mosstrich Beperk, die uitvoermaatskappy van volstruis- en wildsvleis, is pas tydens ’n glansgeleentheid van die Kaapse Kamer van Koophandel in Kaapstad aangewys as Wes-Kaapse Uitvoerder van die Jaar. Die kompetisie is vir alle Wes-Kaapse uitvoerders van dienste of produkte.
Die Mosstrich Groep van Mosselbaai het 160 volstruisprodusente as aandeelhouers. Die groep se abattoir slag, versnit en verpak volstruise sowel as Suid-Afrikaanse wildsoorte soos springbok, blesbok, koedoe, rooibok, blou wildebees en sebras. Meer as 95% van die produkte word uitgevoer na Frankryk, Engeland, Switserland, Duitsland, België en Holland. Die Groep se leerlooiery, SCOT, looi velkleur-volstruisleer vir die Amerikaanse, Europese en Oosterse luukse-artikelmarkte.
Beoordelaars het gekyk na verhoogde uitvoeromset, innoverende nuwe produkte en verpakkings, werkskepping, sosiale- en omgewingsverantwoordelikheid en gehaltebestuur.
Mosstrich-abattoir se uitvoeromset van volstruis- en wildsvleis het in die vorige finansiële jaar met 88% gestyg. Sowat 60 nuwe werksgeleenthede is geskep deur waardetoevoeging op volstruis- en wildsvleis.
Mosstrich het die afgelope jaar ook die eerste volstruis- en wildabattoir geword wat HACCP-akkreditasie (higiëne-standaarde) sowel as die internasionale BRC-akkreditasie (voedselveiligheid en gehaltestandaarde verwerf het op die hoogste vlak.
Dr. Francois de Wet, besturende direkteur van die groep, sê Mosstrich is een van die min landboubesighede wat, behalwe vir hul SEB-aandeelhouers, nog volledig in die hande van primêre produsente is.
“Die vraag na volstruisvleis was verbasend goed in die laaste nege maande, en hoewel vraag na Suid-Afrikaanse wildsvleis swak was tot hede, het die vraag die afgelope weke heelwat verbeter. Hy verwag egter ’n relatief stadige herstel in die vraag na luukse artikels en voorsien ’n strawwe 12 maande vir volstruisleerverkope, sê De Wet.
21 Oktober 2009
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)