Mynregte op wynplase onder loep

 
Mynregte kan De Grendel knel. Foto: www.degrendel.co.za
Mynregte kan De Grendel knel. Foto: www.degrendel.co.za

‘n Openbare vergadering word volgende week (3 Maart) in die Durbanville-stadsaal gehou oor aansoeke vir mynregte op plase in die Stellenbosch- en Durbanville-omgewing.

Luidens ‘n verklaring van die Demokratiese Alliansie (DA) is dié vergadering gereël omdat daar kommer heers oor aansoeke deur ‘n staatsbeheerde maatskappy, African Exploration Mining and Finance Corporation (AEMFC), vir mynregte in dié gebiede.

Mnr. Hendrik Schmidt, DA-lid van die Parlement, sê prospektering en ander mynbedrywighede is nie aktiwiteite waarmee ‘n staatsbeheerde maatskappy hom mee moet bemoei nie. Dit kan lei tot skadelike geldelike verwikkelinge, veral na die resessie en weens stadige ekonomiese groei.

Lees ook:

Mynregte by Mapungubwe toegeken?

Aansoeke moet onafhanklik wees
Schmidt sê aansoeke vir mynregte moet by die Departement van Mynwese ingehandig word sonder dat aansoekers toegang het tot inligting wat die staat besit.

Lees ook:

Myne bedreig landbou steeds

“In die huidige posisie wat die Regering opgestel het, is die staat die grootste aandeelhouer van AEMFC, wat aansoek doen vir prospekteerregte, terwyl die Regering ook die owerheid is wat daardie regte moet toeken. Die posisie is duidelik nie houbaar nie aangesien die staat optree as beide die speler en die skeidsregter in die voorgestelde minerale bedeling wat deur die staat toegepas is,” vertel Schmidt.

Prominente plase onder skoot
Plase, waaronder Hooggelegen, De Grendel, Langverwacht, Haasendal, en Rosendal, wat vir hulle uitstekende boerderypotensiaal bekend is, is onder skoot vir die ontginning van tin, sink, lood, koper, magnesium en silwererts.

‘n Vergadering word Saterdag op Zevenwacht gehou om die omgewing oor die situasie in te lig. Tydens volgende week se vergadering op Durbanville sal verskeie kenners probleme rondom die kwessie bespreek, en groepe in die omgewing sal gevra word om beswaar teen die situasie aan te teken.

Schmidt sê die land se wynbedryf, en die werks- en toerismegeleenthede daaraan verbonde, mag nie deur sulke aansoeke bedreig word nie.

25 Februarie 2010

0