|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 17:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 59% |
| Wind: |
Namibië se eerste superplaas word deur Namibia Dairies by Mariental opgerig en sal vanaf 21 Augustus as !Aimab Superfarm bekend staan. Dié massiewe aanleg sal uiteindelik 2 000 koeie elke ses en ‘n halwe uur kan melk en produseer reeds 30 000 liter melk per dag.
Die koste om die superplaas op te rig, beloop N$120 miljoen en die eerste ontwikkelingsfase van N$80 miljoen sal in Augustus aangekondig word. Namibia Dairies se melkplase, Gocheganas naby Windhoek en Farmverwaltung Pardah by die Hardap-skema, is reeds met die nuwe plaas saamgesmelt. Melkbeeste en werkers is na Mariental oorgeplaas en daar is reeds koeistalle, ‘n kalfeenheid, krale vir kalwers, ‘n voereenheid, ‘n watersuiweringsaanleg, werkplase en pakkamers opgerig.
Mnr. Hubertus Hamm, Namibia Dairies se nuwe besturende direkteur, sê die plaas sal 50 % van alle melk wat deur dié maatskappy ingeneem word, verskaf, terwyl die res deur private melkprodusente verskaf sal word. Daar is tans slegs 18 gevestigde melkprodusente in Namibië en een in Gobabis wat besig is om ‘n melkplaas te vestig.
“Ons het kontrakte met ál die boere wat aan ons melk lewer en nie een van hulle het tot dusver hul bedrywe gestaak nie. Ons is voortdurend in noue kontak met dié boere en ons het elke druppel melk nodig wat hulle kan produseer,” sê Hamm rakende aantygings dat bestaande melkprodusente deur die superplaas bedreig word.
Bron:
Die Republikein
6 Julie 2009
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Groot gedagte!
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)