'n Model waarmee plaasgrond se werklike waarde na aanleiding van die natuurlike hulpbronne bepaal kan word, is nou 'n projek van die Namibiese ministerie van landbou, water en landelike ontwikkeling.
Die Namibiese model om grond se werklike waarde te bepaal, is noodsaaklik in die lig van dié land se program vir grondhervorming, die instelling van grondbelasting en 'n strewe na volhoubare bestuur.
Gevolglik behoort die Suid-Afrikaanse landbousektor die uiteindelike model deeglik te bestudeer, aangesien die landbou hier aan die suidpunt van Afrika deur dieselfde sake geraak word as wat in Namibië aan die orde van die dag is.
Me. Marina Coetzee, hooflandbounavorser van die Namibiese ministerie van landbou, water en landelike ontwikkeling, sê hulle is besig met die samestelling van 'n indeks wat die natuurlike hulpbronne in ag neem om ekstensiewe veeboerdery — die grootste landbousektor in Namibië — se produksiepotensiaal te bepaal. Alle betrokke faktore word geïdentifiseer, waardes daaraan toegeken en kritieke beperkings word bepaal om uiteindelik 'n waarde-indeks vir elke faktor te bereken.
Dié faktore is grootliks die volgende:
TDie veldweiding se groeiseisoen.
Reënvalrisiko's.
Die grond se tekstuur, diepte en dreinering.
Die grond se suurheid, die graad van brakheid en die natrium-inhoud.
Die terrein se helling en klipperigheid.
Die beskikbaarheid van water, die water se gehalte en die digtheid/verspreiding van waterpunte.
Bosindringing.
Giftige plante.
TDie weiding se voedingswaarde en grondbedekking van die weiding.
Coetzee sê die aard van die reënval bepaal die duur van die veldweiding se groeitydperk. Die groeitydperk is 'n aanduiding van die tyd wat beskikbaar is vir biomassa om te groei en ál die belangrike fisiologiese fases te voltooi sonder noemenswaardige vog en temperatuurstres. Namibië is in elf groeiperiode-sones verdeel, wat wissel van meer as 120 dae in die Oos-Caprivi tot nul in die Namib-woestyn. 'n Groeityd van meer as 120 dae maak maksimale grasproduksie moontlik en daar is geen beperkings op veeboerdery nie, terwyl 'n groeityd van byvoorbeeld 30 dae slegs ekstensiewe kleinvee- en wildboerdery — met aangepaste bestuurstegnieke — moontlik maak.
Grondeienskappe is baie belangrik vir die bepaling van produktiwiteit. Die tekstuur en diepte beïnvloed die toestande vir die plantwortels en die opberging van water en voedingstowwe. Die grond se vermoë om te dreineer, is weer 'n aanduiding van die deurdringbaarheid en belugting van die wortelsone. In die afwesigheid van gedetailleerde inligting oor die grond se vrugbaarheid, gebruik Coetzee die pH-vlak as aanduiding van die voedingstatus en beskikbaarheid van plantvoedingstowwe. Die grond se sout- en natriuminhoud het 'n nadelige uitwerking op die groei van grassoorte en verlaag die grond se produksievermoë.
Faktore soos die terrein se helling en klipperigheid beïnvloed bestuur. 'n Skuins helling veroorsaak erosie, die wegvloei van reënwater en 'n verlies aan voedingstowwe uit die bogrond. Klippe bo-op die oppervlak verklein die oppervlakte wat bewei kan word, en klippe ín die grond verminder die volume waarin water en voedingstowwe opgeberg kan word.
In landelike Namibië kom drinkwater vir mens en dier feitlik uitsluitlik uit die grond. Oppervlakwater is baie beperk weens die lae en wisselvallige reënval, hoë verdamping en min standhoudende riviere. In die droë dele het beeste (inheemse rasse) vir oorlewing 25 liter tot 45 liter water per dag, sowat elke 3 tot 4 dae nodig. Skape het 3 liter tot 6 liter water per dag, sowat elke 2 tot 3 dae nodig, hoewel meer gereelde toegang tot water nodig is om goeie produksie te lewer.
Die diepte van die watertafel, die lewering van boorgate (boor- en pompkoste styg hoe dieper die boorgate is), asook die water se gehalte word in ag geneem.
Die hoeveelheid waterpunte per oppervlakte is ook bepalend vir die indeks. Die afstand wat diere moet aflê om by water te kom, is belangrik.
Die Voedsel- en Landbou-organisasie van die Verenigde Nasies, die VLO, het riglyne vir kritieke afstande van waterpunte af vir beeste opgestel. Dit is die volgende:
Dit is nie beperkend vir beesproduksie om tot 2 km van 'n waterpunt af te wei nie, in welke geval 'n sirkel met 'n oppervlak van ongeveer 1 250 ha benut word.
Produksie word effens beperk deur diere wat 2 km tot 5 km moet stap om water te bereik. In dié geval kan 'n maksimum area van sowat 7 900 ha bewei word.
Daar is matige beperkings op produksie indien 'n dier van 5 km tot 10 km tot by water moet loop, wat in ooreenstemming met 'n maksimum beweibare area van nagenoeg 31 500 ha is.
Ernstige beperkinge word op produksie geplaas as diere verder as 10 km van die water af moet wei.
Die "effektiewe area" van 'n plaas of kommunale weiveld wat gevolglik benut kan word, word bepaal deur die verspreiding van die waterpunte. Weiding in 'n area wat byvoorbeeld 50 000 ha beslaan, kan nie volledig benut word as dit deur slegs een waterpunt bedien word nie.
Die agteruitgang van veld weens bosindringing raak ernstig, want dit skep 'n wanbalans tussen gras en bosse en veroorsaak 'n afname in drakrag en 'n verlaging van die watertafel. Sowat 26 miljoen ha grond word al ernstig hierdeur geraak en die nasionale beeskudde is weens bos-indringing nog net 36% van 1959 se getalle. In die noordooste vrek baie vee weens vergiftiging deur plante, veral as die weiding skaars is, aangesien dié plante vinniger ontwikkel as die omliggende grassoorte. Boere moet hul vee dan uit sulke gebiede weghou. Dit maak 'n plaas se beweibare dele kleiner en verg ekstra uitgawes vir veewagters, heinings en die bestryding van die gifplante.
Coetzee sê lede van die Karstveld-studiegroep, wat help om die indeks te ontwikkel, het twee bykomende faktore onder haar aandag gebring, naamlik die weiding se voedingkundige inhoud en grondbedekking.
Die volgende stappe wat hulle te doen staan, is om te bepaal of ál die tersaaklike eienskappe geïdentifiseer is om 'n indeks saam te stel, en om kritieke beperkings, rangordes en waardes aan elke faktor toe te ken. Die indeks word met die samewerking van studiegroepe ontwikkel en is reeds op klein skaal getoets. Hulle sal aanpassings maak waar nodig.
Uiteindelik sal dié model intensief oor die hele land getoets word voordat dit aan besluitnemers beskikbaar gestel word.
Navrae: Me. Marina Coetzee, tel. 09264 61 208 7077, of per e-pos: mec@iway.na.
25 Februarie 2005