|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 17:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 59% |
| Wind: |
Die gaping tussen die praktyk en teoretiese navorsing moet verklein word. Navorsers van verskillende vakrigtings moet beter met mekaar saamwerk en meer met boere kontak maak sodat meer inligting by hulle kan uitkom.
Mnr. Dave Goodenough, voorsitter van die Weidingsvereniging van Suider-Afrika (WVSA), het op die eerste gesamentlike kongres van dié vereniging en die SA Vereniging vir Veekunde (SAVV) by Christiana gesê die WVSA het probleme om boere te betrek. In die jare tagtig was daar meer skakeling en baie meer boere was lid van die vereniging.
Boere het wetenskaplikes en tegnici nodig vir steun en hulp op die plaas. Daarom moet die vereniging boere as sy kliënte sien en in medewerking met ander vakgebiede 'n beter diens lewer. Gesamentlike boeredae kan gehou word om inligting by die boeregemeenskap te kry.
Hy het gesê in Suid-Afrika word 'n behoefte aan vraaggedrewe navorsing ál meer ervaar. Sommige bedrywe het heffings ingestel om vir navorsing te betaal. Deur privatisering kan boere groter inspraak kry in die gebruik van hul geld vir navorsing.
Prof. Christiaan Cruywagen, voorsitter van die SAVV, het gesê die gesamentlike kongres van die twee verenigings is 'n mylpaal omdat vee- en weidingkundiges al die jare nou saamwerk.
Omdat die landbou 'n moeilike tyd beleef, is dit belangrik dat vakkundiges saamstaan om boere te help. Dit sal goed wees as geskille en verskille van die verlede vergeet word en die samewerking ook na veeartsenykundiges uitgebrei word.
Prof. Billy Basson, erevoorsitter van die SAVV, het gesê omdat weidingkundiges en veeartse 'n groot rol in die veebedryf speel, is dit nodig dat kenners van die verskillende vakgebiede saamwerk. Hy hoop 'n sekretariaat kan ontstaan wat 'n gekombineerde diens van die drie vakgebiede beter en goedkoper aan boere kan lewer.
Mej. Ansoria Geldenhuys van die plaas Jakkalsfontein, Klerksdorp, is op die kongres deur die WVSA as kommersiële Bewaringsboer van die Jaar aangewys. Mnr. Ponki Barnabas Makinita van die plaas Klipbult in die distrik Madikwe, in die Groot Marico, is die opkomende Bewaringsboer van die Jaar.
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24