Nederburg-veiling vonkel met hoë pryse

 

Die hoër gemiddelde pryse wat skaars en gesogte wyne op vanjaar se Nederburg-wynveiling behaal het, het gehelp om dié veiling die suksesvolste in bykans vyf jaar te maak.

Met ‘n inkomste van sowat R5,7 miljoen was 2010 ‘n goue jaar vir die veiling, wat die eerste keer in 1975 aangebied is. Dit was ‘n verbetering van bykans R1,7 miljoen op verlede jaar, en ook die meeste geld wat nog geïn is sedert 2006. Toe het die veiling se totale verkope geraak-raak aan R7 miljoen.

“Dit voel goed om vandag hier te staan. Dit het beter gegaan as in 2007, 2008 én 2009. Dit is natuurlik moeilik om 2005 en 2006 te klop, want hulle was die gróót jare. Ons is baie tevrede,” het me. Carina Gous, Distell se hoofbestuurder van wyn, gesê.

Al die kategorieë het beter gemiddelde pryse behaal as in die verlede. Veral die port-kategorie het ‘n groot sprong gemaak nadat die Nigeriese sakeman en wyn-invoerder mnr. Obi Josephat Ndibe R62 000 vir ses bottels Nederburg Port 1964 betaal het. Dit is die hoogste prys wat nóg vir port by die veiling betaal is.

Genotvolle atmosfeer
Ook die Britse afslaer mnr. Anthony Barne, ‘n direkteur van Bonhams Auctioneers, meen die veiling het ‘n meer “genoeglike en genotvolle” atmosfeer gehad as wat die huidige neiging by wynveilings in Engeland is.
 
“Dit was wonderlik om te sien hoe 15 hande gelyktydig in die lug opskiet as ek ‘n wyn aankondig. Deesdae sien ‘n mens dit nie meer in Londen nie. Dit was nie vir my nodig om hard te werk om die lotte te verkoop nie.”
 
Mnr. Jan Scannell, besturende direkteur, sê hy het ‘n meer positiewe benadering onder wynkopers waargeneem as in die onlangse jare.  
 
“Verlede jaar het die kopers net wyn gekoop wat hulle doodseker was hulle sou weer kon skuif. Die verandering kan dui op ‘n meer positiewe atmosfeer in die kleinhandel, en ons is bly daaroor. Dit lyk na ‘n goeie beginpunt vir (ekonomiese) herstel.”
 
Hoogste pryse
Die hoogste prys wat vir ‘n witwyn betaal is, was R2 600 vir vier 1,5 liter-bottels van De Wetshof Landgoed se Unfiltered Chardonnay 2006. ‘n Groot Constantia Cabernet Sauvignon 1972 het die hoogste prys vir ‘n rooiwyn behaal. Dit was R5 200 vir drie 750 ml-bottels. 
 
Twaalf 375 ml-bottels van die 1977-oesjaar Nederburg Edelkeur het die tweede hoogste prys vir edellaatoeswyn in die veiling se geskiedenis behaal. Dit was R9500. Die rekord is R11 200 wat in 2005 vir Klein Constantia Vin de Constance 1986 betaal is.
 
Die liefdadigheidsveiling het R169 500 vir Goedgedacht Trust, die Pebbles-projek en Word Vision SA ingesamel. Me. Hanneli Rupert-Koegelenberg van La Motte Wynlandgoed het R60 000 vir ‘n 5 liter-bottel Chateau Lagrange 1986 betaal.
 
6 September 2010
0
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.