|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 17:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 59% |
| Wind: |
Die Wes-Kaapse ministeriële werkgroep het die droogtegeteisterde gebiede in die provinsie wat die grootste behoefte aan hulp het, afgebaken, het die provinsiale minister van landbou, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, mnr. Johan Gelderblom, aangekondig.
Dié gebiede is: Ceres en die Tankwa-Karoo, Agter-Pakhuis, Rietbron, Touwsrivier, Kliprand, die Rooi-Karoo en 'n gedeelte van Koringberg, Zeekoegat/Prins Albert, Prins Albert-weg/Prins Albert, die Knersvlakte, Rietpoort, Bitterfontein, Beaufort-Wes-Suid, die noordelike grensgebied aan Beaufort-Wes-Suid, Landplaas/Nuwerys, Merweville/Leeu-Gamka, die Moordenaarskaroo en die Klein Roggeveld.
Die registrasie van boere in hierdie gebiede wat om hulp wil aansoek doen, is tans in volle gang. Die eerste uitbetalings behoort einde vandeesmaand gedoen te word en voorlopig tot einde volgende maand te duur.
Die provinsie het R15,85 miljoen beskikbaar om voer vir 'n maksimum van 30 beeste per boer met 75 % te subsideer. Subsidies sal direk aan die verskaffers en vervoerders van die voer betaal word.
Dié hulp word toegeken op 'n grondslag van eerste gekom, eerste gehelp en word per persoon toegeken. Registrasievorms is by voorligtingskantore van die departement van landbou te kry en moet persoonlik afgehaal word. Aansoekers moet 'n beëdigde verklaring aflê vir die korrektheid van die inligting wat hulle verskaf. 'n Afskrif van die aansoeker se identiteitsdokument, sowel as 'n afskrif van die betrokke transportakte en/of huurkontrak, moet voorsien word.
'n Handleiding oor die droogtehulpskema en twee eisvorms word aan aansoekers verskaf. Die twee vorms moet aan die einde van die maand voltooi en aan die betrokke voorligter of tegnikus terugbesorg word. Die eisvorms moet vergesel word van die oorspronklike fakture vir die besending voer en die vervoerkoste daarvan.
Voorheen benadeelde boere in hierdie gebiede wat moontlik vir hulp in aanmerking kom, sal deur amptenare van die departement besoek word.
27 Februarie 2004Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24