|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 17:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 59% |
| Wind: |
Die hoofgrondeisekommissaris, mnr. Tozi Gwanya, het kategories ontken dat die Regering dit oorweeg om die geleentheid vir grondeise in 'n deel van die Oos-Kaap te heropen.
"Geen nuwe eise sal toegelaat word nie en daar sal geen uitsonderings wees nie. Kragtens die Wet op die Herstel van Grondregte kan die proses nie heropen word nie en om die wetgewing te verander sal 'n baie lang parlementêre proses wees. Ons is nie bereid om dit te doen nie."
Hy het gereageer op nuusberigte waarin beweer is dat die Regering oorweeg om eise in die voormalige Transkei en Ciskei by wyse van uitsondering oop te stel omdat 1 000 eise daar glo weens 'n administratiewe fout oor die hoof gesien is.
Dit raak sowat 500 000 mense in die voormalige Ciskei en 1,5 miljoen in die Transkei, wat glo nie deur die grondeisekommissaris in die ou tuislande toegelaat is om eise in te stel nie. Volgens die berigte beskou hy dit as 'n spesiale geval en sou die Regering 'n venstertydperk van ses maande oorweeg vir die nuwe eise.
Gwanya sê daar was wel só 'n versoek van 'n landelike komitee en daar is drukgroepe wat graag die proses heropen wil sien. "Joernaliste wat die drukgroepe se saak probeer bevorder, tree oneties op. Ons wil die werk rondom grondeise afhandel en die boek toemaak," het hy gesê.
Restitusie-eise kon sedert 1995 ingestel word. Die aanvanklike afsnydatum was Maart 1998, en net 34 000 eise is ontvang. Die afsnydatum is daarna tot einde 1998 uitgestel. Teen daardie tyd is 79 649 eise ingestel.
Agri SA sê hy verwelkom Gwanya se versekering dat 'n heroopstelling van eise nie toegelaat sal word nie. Mnr. Lourie Bosman, voorsitter van die grondsakekomitee, sê Agri SA sal in elk geval geen poging om die wet te wysig steun nie.
"Die proses kan nie vir ewig uitgerek word nie. Grondhervorming moet so spoedig moontlik afgehandel word sodat dit kan meewerk om bestendigheid te bevorder."
Die beweringe oor die oopstelling vir nuwe eise het hewige reaksie ontlok. Mnr. Dan Maluleka, die DA se woordvoerder oor grondsake, het gesê dit sou ernstige probleme skep as een provinsie uitgesonder word. As twee miljoen mense deur wanadministrasie benadeel is, moet hulle 'n eis teen die staat instel.
Mnr. Bertie van der Merwe van die NNP het gesê die Regering het reeds vroeër teen die oopstelling besluit en kan nie nou van plan verander nie.
20 Februarie 2004Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24