’n Nuwe landbou-organisasie in die plek van Agri Mpumalanga, wat gelikwideer gaan word, word op 1 September gestig.
Dit sal voorafgegaan word deur twee inligtingsvergaderings op die Hoëveld en in die Laeveld.
’n Loodskomitee het Woensdag (28 Julie) op Middelburg onder voorsitterskap van mnr. Koot Claassen vergader om ’n nuwe naam, grondwet en embleem te bespreek. Die voorgestelde nuwe naam, Mpumalanga Landbou, sal saam met ’n embleem op die stigtingsvergadering ter tafel gelê word.
Claassen, ’n voormalige voorsitter van Agri Mpumalanga, het aan landbou.com gesê hoofbestuurslede van die ou organisasie het vandag se vergadering bygewoon. Dit is gehou op aandrang van boere wat meen daar moenie te lank met die nuwe organisasie gewag word nie, omdat verskeie sake dringende aandag verg.
Almal genooi om aan te sluit
Nie net kommersiële boere sal in die nuwe organisasie verteenwoordig word nie, maar ook opkomende boere, landboubesighede, maatskappye en ander belanghebbendes in die landbou ten einde soveel kundigheid moontlik te bekom.
"Ons wil ’n nuwe organisasie skep wat daarop geskoei is om die landbou volhoubaar te maak," sê Claassen.
Agri Mpumalanga het onlangs ingestem tot ’n proses van vrywillige likwidasie. ’n Gedoemde kunsmistransaksie van sowat R10 miljoen het tot die stap aanleiding gegee. Dit het gegaan oor kunsmis wat boere deur die organisasie by die invoeragent Eurostar Trading bestel en daarvoor betaal het, maar nie al die kunsmis is toe gelewer nie.
Die TLU SA het intussen ook voelers uitgesteek na Agri Mpumalanga-lede om by hom aan te sluit ná die likwidasie van Agri Mpumalanga.
28 Julie 2010
Kommentaar
Ek is n opkomende boer van Balmoral naby Brokhorspruit. Ek wil aansluit by die nuwe Mpumalanga Landbou. Kan ek asseblief Mnr Claassen se kontak kry?
David
078 212 3999
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)