|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 17:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 59% |
| Wind: |
Elke sekonde word drie mense op aarde gebore. Dit beteken 250 000 mense meer elke dag en 90 miljoen meer per jaar. Teen 2100 sal die wêreldbevolking op sowat 11,5 miljard mense staan teenoor 1991 se 5,4 miljard.
Die hoogste bevolkingsgroei is in die ontwikkelende en Derdewêreldlande. Dié groeiende getalle moet kos kry. Daar is net twee moontlikhede: Om meer grond te bewerk en met voedselgewasse te beplant, of 'n groter opbrengs per hektaar.
Eersgenoemde raak al hoe moeiliker deurdat die meeste grond in baie dele van die wêreld wat vir landbou geskik is, reeds daarvoor gebruik (en dikwels oorbenut) word. Die tweede alternatief om meer per hektaar te oes word met welslae in ontwikkelde lande toegepas, maar in die meeste ontwikkelende en Derdewêreldlande is die slaagsyfer redelik laag.
'n Volhoubare styging in voedselproduksie berus op die voortdurende toepassing van meer wetenskaplike landboumetodes en tegniese ontwikkeling, waaronder die gebruik van beter bestuurspraktyke, krag, werktuie, saad, kunsmis en plantbeskermingsmiddels.
Laasgenoemde sluit in landboumiddels en biologiese metodes om siektes, onkruid en plae die hoof te bied.
Boerdery moet dus vandag intensief wees, maar terselfdertyd omgewingsvriendelik. Dit stimuleer die plantbeskermingsbedryf om sulke middels te ontwikkel en gedurig aan te pas en te verbeter. Daar word bereken dat tot 42 % van alle kos wat geproduseer word, verlore gaan weens onkruid, plae en siektes veral in die gebiede waar dit die nodigste is.
Mnr. Malcolm Gordon, streekbestuurder: produknavorsing en -ontwikkeling van Bayer in die Paarl, sê dit kos 'n maatskappy soos Bayer 8 tot 10 jaar om 'n nuwe middel te ontwikkel, en dit kan tot 157 miljoen euro (R1,6 miljard) kos.
Die ontwikkelingsproses staan op vier bene: Chemie, waarin die aktiewe bestanddeel en samestelling ontwikkel word (51,1 miljoen euro); die biologiese been wat navorsing en ontwikkeling insluit (56,2 miljoen euro); die toksikologiebeen, waarin die relatiewe veiligheid of gevaar van 'n middel vir mense, diere en die omgewing ondersoek word; en die omgewingsbeen, waar die metabolisme en produkte van die werking van 'n middel onder die vergrootglas kom. Die laaste twee kos saam 49,9 miljoen euro. (Met die skryf hiervan was R9,29 nodig om een euro te koop.)
Veral die koste van die omgewingsbeen groei elke jaar namate mense meer omgewingsbewus en bekommerd raak oor die impak van landboumiddels op die omgewing.
Die kans om 'n suksesvolle middel teen 'n siekte of patogene organisme te vind, is tans 1:46 000. Elke jaar ondersoek, ontleed en voeg dié maatskappy tot 23 000 stowwe saam in die hoop dat een van hulle die ware Jakob is waaruit 'n doeltreffende middel sal voortvloei, sê mnr. Salmon.
In van die laboratoriums in Monheim werk geen mens nie. Robotte doen 24 uur per dag, 7 dae per week en 362 dae 'n jaar sonder ophou proewe. Werk kom elke jaar net drie dae lank tot stilstand vir onderhoud.
Talle vereistes gestel
Streng vereistes word aan 'n nuwe middel gestel, sê mnr. Malcolm Gordon, Bayer se streekbestuurder: produknavorsing en -ontwikkeling in die Paarl. Dit moet onder meer:
Hy sê nuwe produkte op die mark voldoen aan hierdie vereistes, en meer is aan die kom. Die aktiewe bestanddele van die meeste nuwes bestaan uit nuwe chemiese groepe met nuwe meganismes van werking. Dit is baie belangrik in die stryd om die ontwikkeling van weerstand te voorkom. Afwisseling van produkte van verskillende groepe is 'n hoeksteen van 'n goeie antiweerstandstrategie.
Só is flufenaset die aktiewe bestanddeel van 'n nuwe soort waterdispergeerbare korrel (Tiara) vir die bestry-ding van eenjarige grassoorte voordat hulle opkom by mielies, sojabone, droëbone, grondbone, sonneblomme en aartappels. Tiara kan met atrasien gemeng word vir gebruik op breëblaar-onkruid in mielies.
Grassoorte soos kruisvinger en vleibuffels, verskillende misbredies, grootstinkblaar en kakiebos is onder die meer as 25 probleemonkruidsoorte wat bestry kan word.
'n Swammiddel wat donsige skimmel (Plasmopara viticola) op wyn- en tafeldruiwe bestry, is Melody Care 66,75 WG, waarvan die aktiewe bestanddele iprovalikarb en propineb is. Dit is 'n sistemiese waterdispergeerbare korrel wat verenigbaar is met heelwat ander middels wat op plase gebruik word.
Teldor 500 SC, 'n suspensiekonsentraat kontakswammiddel vir die bestryding van Botrytis-verrotting op tafel- en wyndruiwe, het onlangs in Suid-Afrika beskikbaar geraak. Die aktiewe bestanddeel is fenheksamied, wat die eerste middel in gebruik is wat tot die nuwe hidroksienanaliedgroep behoort. Dit is op ál die bekendste tafeldruifkultivars getoets.
Nog 'n sistemiese konsentraatswammiddel vir die bestryding van poeieragtige meeldou (Oidium tuckeri) op wyn- en tafeldruiwe, asook op erte, mango's en rose, is Prosper 500 EC, wat die aktiewe bestanddeel spiroksamien bevat.
Melody Duo 69 WG met iprovalikarb en probineb as aktiewe bestanddele, is 'n nuwe sistemiese en voorkomende waterdispergeerbare korrelswammiddel vir die bestryding van laatroes (Phytophthora infestans) by aartappels en tamaties. Iprovalikarb behoort tot 'n nuwe chemiese groep wat 'n eerste in sy soort in Suid-Afrika is.
'n Ander nuwe middel wat tot 'n nuwe chemiese groep behoort, is Calypso 480SC, met tiaklopried as aktiewe bestanddeel. Dit is 'n sistemiese suspensiekonsentraat insekmiddel wat veral suksesvol ingespan word vir die bestryding van kodlingmot (Cydia pomonella) by appels en pere. Dit is ook verenigbaar met die meeste landboumiddels wat op appels en pere gebruik word.
Mnr. Gordon sê daar word nou saamgewerk met die Universiteit van Stellenbosch se departement plantpatologie om sensitiwiteitstoetse met nuwe middels teen siektes van verskillende gewasse uit te voer en met die departement insektekunde om die effek op skadelose organismes te bepaal.
14 Junie
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24