|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 17:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 59% |
| Wind: |
'n Nuwe landboumaatskappy, Afgri Crop Care (Edms.) Bpk., is deur Afgri Bpk. (voorheen bekend as OTK) en 'n uitgesoekte groep verspreiders landwyd (voorheen bekend as Novon), gestig wat ál die belangrike landboustreke in Suid-Afrika verteenwoordig.
Mnr. Chris van Eeden, besturende direkteur van die nuwe maatskappy, sê die maatskappy wil die voorkeurverskaffer van gewasprodukte en -dienste aan boere wees. Dit sluit 'n omvattende produkreeks van onder meer saad, kunsmis en oesbeskermingsmiddels, asook kommersiële dienste, soos oesfinansiering, versekering en oeskontrakte in.
Volgens mnr. Van Eeden is die verspreidingsvennote noukeurig uitgesoek vir hul ondervinding en bekwaamheid in dié bedryf en het hulle die vertroue van boere in hul onderskeie streke gewen deur standvastige verhoudings oor baie jare op te bou.
Hy sê Crop Care sal 'n eiesoortige benadering ten opsigte van klantediens volg. "Opgeleide verhoudingsbestuurders sal, met die hulp van die jongste tegnologie, boere van raad bedien om die beste oplossings vir probleme te verseker. Hierdie top-diens sal dus werklike waarde toevoeg tot die uitkoms van gewasverbouingsprosesse.
"Boonop sal Crop Care, deur strategiese alliansies met gerespekteerde plaaslike en internasionale vervaardigers en diensverskaffers te smee, ideaal gerat wees om sekere produkte en dienste teen die mededingendste pryse te bied," het mnr. Van Eeden gesê.
Hy voeg by dat die maatskappy sy teenwoordigheid in die lande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) wil verhoog deur gevestigde handelaaragentskappe in dié lande en uiteindelik regoor Afrika suid van die Sahara te vestig.
9 Augustus 2002
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24