|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 17:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 59% |
| Wind: |
Ernstige kommer bestaan oor die daling in die rooivleisboer se aandeel in die verbruikersrand, sê mnr. Arnold Brand,
voorsitter van die Rooivleisprodusente- organisasie (RPO).
Hy het in sy voorsittersrede op die RPO se kongres in Kaapstad gesê die uitdaging is om die waardeketting meer vaartbelyn en doeltreffender te maak sodat boere winsgewend kan produseer en terselfdertyd bekostigbare rooivleis op die verbruiker se tafel kan sit.
Hy waarsku egter dat boere intens pessimisties sal raak as die invoertarief op rooivleis afgeskaf sal word. Volgens hom sal die verbruiker minimale voordeel daaruit trek.
"Studies het gewys dat die heffing van 40% geen beskerming aan die bedryf bied nie, maar net die speelveld gelyk maak. Die wêreldwye neiging van stygende produksiekoste en
duurder kos het groot druk op die winsgewendheid van die veeboer in Suid-Afrika geplaas. Daarom is dit belangrik dat die RPO boere met kennis, inligting en voorligting bemagtig om in dié ongunstige ekonomiese omgewing volhoubaar te produseer."
Hoër produktiwiteit is noodsaaklik vir die oorlewing van die veeboere van die land, sê hy. Om produksie te verbeter, gaan die RPO 'n instituut vir produksie-ontwikkeling van stapel stuur wat sal aandag gee aan kommersiële rooivleisprodusente en hul werkers.
" 'n Poel van kenners sal daargestel word waaruit provinsies, volgens spesifieke behoeftes, van die kundigheid kan gebruik. Die RPO sal dié sentrum bestuur met die ondersteuning van private inisiatief sowel as statutêre geld," het hy gesê.
Landbouweekblad, 26 September 2008
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24