|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 17:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 59% |
| Wind: |
'n Nuweling op vanjaar se Nederburg-veiling, Iona Vineyards van Elgin, het verras toe sy 2001 Sauvignon blanc die hoogste prys vir witwyn behaal het, naamlik R1 250 (6 x 750 ml). Dit kom neer op sowat R208 per bottel, terwyl droë witwyn vanjaar teen gemiddeld R712 per kis verkoop is.
Die duurste rooiwyn was ses bottels Lanzerac Pinotage 1968 wat vir R7 000 van die hand gesit is. Die gemiddelde prys vir rooiwyn was R1 423 vir 'n kis van 9 liter (wat op 'n styging van 9 % teenoor verlede jaar se veiling neerkom). Hoewel rooiwyn altesaam 66 % van die veilingverkope uitgemaak het, is 10,25 % minder rooiwyn vergeleke met verlede jaar verkoop.
Nietemin het die wynpryse met gemiddeld 7 % gestyg. Die rekordomset van R7,5 miljoen was sowat 3,25 % hoër as dié van verlede jaar. Internasionale kopers was vir 18 % van die omset verantwoordelik, terwyl Makro die grootste koper op die veiling was, gevolg deur Pick 'n Pay en 'n Russiese koper.
Klein Constantia se Vin de Constance, wat destyds een van Napoleon se gunstelinge was, was die duurste edellaat-oeswyn op die veiling. Ses bottels van dié wyn uit die 1986-oesjaar het R6 600 behaal. Die gemiddelde prys vir edellaat-oeswyn was R1 756 vir 'n kis van 9 liter.
Ses bottels Monis Collector's Port 1948 het R7 400 behaal (wat die hoogste prys vir port was), terwyl 'n 3 liter-bottel MCC Sparkling Pongrácz teen R740 van die hand gesit is (wat die hoogste prys vir 'n vonkelwyn was). Die hoogste prys wat vir gefortifiseerde wyn betaal is, was R410 vir ses bottels 1996 Nuy Rooi Muskadel.
Die liefdadigheidsveiling het R322 000 vir die Hospies-vereniging opgelewer, terwyl die opbrengs van die veiling ten bate van HIV-positiewe vroue R116 000 was.
25 April 2003Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24