THEUNS BOTHA
Die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) het in Port Elizabeth bekend gemaak dat hy in die komende jaar in groter mate betrokke gaan raak om wolproduksie in die kommersiële boerderygebied van die Oos-Kaap te bevorder. Verskeie inligtingsdae en projekte word beoog om kundigheid aan boere hier oor te dra.
Dr. Louis du Pisani, produksie-adviseur van die NWKV op Middelburg, wie se taak dit sal wees om dié projekte te koördineer, sê 'n jaarprogram gaan met die samewerking van die NWKV se bestuur in die Oos-Kaap opgestel word. Die vereniging gaan al sy produksie-adviseurs se kundigheid aanwend om die program uit te voer. Ook ander instansies, soos die departement van landbou en wolmakelaars sal betrek word.
Hy sê omdat sowat een derde van die land se wol in die Oos-Kaap geproduseer word en van die land se beste en swakste wol hier aangetref word, het die provinsie eiesoortige behoeftes wat aandag verdien. Een van die sake waarmee boere in die kommersiële dele van die provinsie worstel, is die oorwintering van vee en die voorkoms van breekwol.
Daar sal ook spesiale aandag gegee word aan veldtuursprogramme. Boere kan dr. Du Pisani by 082 773 9778 bel.27 Junie 2003