Omvattende benadering tot grondhervorming nodig

 

'n Duidelike strategie vir grondverkryging, kommoditeitsgerigte herverdeling en 'n geïntegreerde landboustrategie wat die hele voedselketting insluit, is van die fokuspunte op die onlangse vergadering van pres Thabo Mbeki en sy landbouwerkgroep bespreek is.


Dié werkgroep, wat die ministers van landbou en grondsake, arbeid, handel en nywerheid, regeringsamptenare, sowel as die leierskap van Agri SA en Nafu ingesluit het, is dit eens dat grondherverdeling steeds versnel moet word.


Me. Thoko Didiza, Minister van Landbou en Grondsake, het gesê 42 000 van 68 000 grondeise is reeds afgehandel. Sowat 450 000 ha is deur die LRAD-skema (Land Redistribution for Agricultural Development) herverdeel.


Volgens 'n verklaring deur die presidensie ná die vergadering was almal dit eens dat daar 'n duidelike strategie vir die verkryging van grond moet wees en 'n taakgroep van die Regering, Agri SA en Nafu moet daarna omsien.


Mnr. Japie Grobler, voorsitter van Agri SA, sê kommer is uitgespreek oor gevalle waar die prys van grond wat vir herverdeling beskikbaar gestel word, buite verhouding verhoog word. Daar is ook gepraat oor grond wat onbewoon gelaat word en grond wat nie produktief benut word nie.


Op die vergadering was daar erkenning vir die feit dat talle grondhervormingsprojekte in die verlede misluk het en dat nie alle grondloses noodwendig wil boer nie. Daar word besef dat as kommersiële boere van vandag nie mededingend en met welslae kan boer nie, ontwikkelende boere ook nie 'n kans het om te slaag nie.


Die klem is ook gelê op 'n kommoditeitsgerigte benadering met grondherverdeling. In die geval van katoen as voorbeeld moet daar nie net gekyk word hoe produksie met die hulp van nuwe boere verhoog kan word nie, maar ook hoe dit by die tekstielbedryf inpas.


Die departemente van landbou en handel en nywerheid moet saamwerk om kommoditeitsontwikkeling in die landbou te integreer met die strategie vir vervaardiging. Daar is besluit dat 'n taakgroep van die departemente van landbou, grondsake, handel en nywerheid, Agri SA, Nafu en ander belanghebbendes 'n geïntegreerde landbou-strategie moet ontwikkel.


'n Voorlopige verslag moet teen 15 Desember gereed wees en die finale strategie teen Februarie.


Mnr. Hans van der Merwe, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê die besluite dui op groter interaktiewe beplanning en 'n holistiese benadering waarin gekyk word na haalbare en bestuurbare wins- en markmoontlikhede vir die landbou. Hy sê die Regering besef hy kan nie alles alleen vermag nie en kyk na instellings binne die landbou se bydra om van hervorming 'n sukses te maak.

14 November 2003

0