|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 17:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 59% |
| Wind: |
Dit wek kommer dat die Suid-Afrikaanse Regering die omstandighede in Zimbabwe as vordering bestempel, terwyl die res van die wêreld in afgryse toekyk. Alle Suid-Afrikaanse ministers praat die gebeure in Zimbabwe goed.
Mnr. Louw Steytler, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL), het op die NWKV-kongres in Bloemfontein gesê onregverdighede teenoor boere moet eerder veroordeel word, want dit bevorder nie die landbou nie. Die teendeel is eerder waar.
"Dit voorspel ook niks goeds nie dat Zimbabwiese ministers die Suid-Afrikaanse Regering bedank vir sy steun aan Zanu-PF om sy grondhervormingsprogram voort te sit en aan die bewind te bly."
Volgens hom behoort Suid-Afrika deel van die oplossing van die grondhervorming-kwessie te wees, nie die probleem nie. "Dit is 'n nasionale aangeleentheid wat elke Suid-Afrikaner raak. As dit nie slaag nie, sal dit ernstige gevolge vir die land se ekonomie en voedselsekerheid hê. Sonder die daadwerklike deelname van kommersiële boere sal grondhervorming nie slaag nie."
Hy het gesê een uit elke vyf werkgeleenthede is in die landbou. "As die landbou nie opgepas word nie, kan dit ernstige ekonomiese implikasies hê."
Agri SA bly by sy standpunt dat grondhervorming op die grondslag van vrywillige koper en verkoper moet geskied. "As dié beginsel nie die hoeksteen is nie, kan die Suid-Afrikaanse ekonomie inplof. Grond as sulks het geen ekonomiese waarde nie. Dit is die ekonomiese aktiwiteit op die grond wat waarde het. Nuwe boere moet dit ook besef," het mnr. Steytler gesê.
Oor grondbelasting het mnr. Steytler gesê die georganiseerde landbou, wat met beskuldigings van rassisme in die gesig gestaar is, het die teendeel bewys deur te wys op die noodsaaklikheid van die ekonomiese lewensvatbaarheid van die landbou.
"Vrystaat Landbou sal boere nie uitlewer aan enigiets wat die ekonomiese vermoë van 'n plaas in gevaar stel nie."
7 Maart 2003Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24