|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 18:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 59% |
| Wind: |
Afrika-perdesiekte het in Swaziland uitgebreek nadat 'n besmette Suid-Afrikaanse perd daar aan 'n skou deelgeneem het.
Een van 'n groep van 51 perde in die uitbreking het reeds gevrek.
Volgens die Internasionale Dieregesondheidskantoor (OIE) word vermoed dat die Suid-Afrikaanse perd met die siekte besmet was toe dit op 30 April Swaziland binnegekom het.
Sowel die Suid-Afrikaanse as die Swazilandse perde op die betrokke plaas is jaarliks teen die siekte ingeënt.
Die plaas, in die Hhohho-provinsie, is onder kwarantyn geplaas en die situasie word dopgehou.
Die embargo wat op die uitvoer van perde vanaf Suid-Afrika na die Europese Unie geplaas is, is steeds in plek. Die Europese Kommissie sal via die Departement van Landbou versoek word om dit spoedig op te hef en nié 'n verbod van twee jaar in te stel soos gebeur het met die vorige uitbreking in 1999 nie.
Intussen het die Wes-Kaapse departement van landbou vroeg verlede week die kwarantyn opgehef wat ná die uitbreek van dié siekte in die landdrostrikte van Stellenbosch en Somerset-Wes en op sekere individuele plase ingestel is. Net op plase in die omgewing van Kalbaskraal naby Durbanville geld die beheermaatreëls steeds.
Mnr. Cobus Dowry, die provinsiale minister van landbou, sê daar was die afgelope agt weke geen nuwe gevalle van die siekte in dié provinsie nie.
28 Mei 2004Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24