Plaasaanval-verdagte doodgeskiet

 

Een van die vier mans wat aangekeer is vir die moorde op drie mense op ‘n plaas in KwaZulu-Natal, is doodgeskiet, sê die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).

Luidens ‘n berig op Nuus24.com sê luit.-kol. Jay Naicker: “Een van die verdagtes in die moordsaak op Sherwood Farm is doodgeskiet toe hy 'n polisieman ontwapen en hom probeer skiet het.”

Die verdagtes is Woensdagoggend (28 Julie) deur ‘n georganiseerde taakmag in hegtenis geneem. Hulle word verdink van die moorde op me. Lorraine Karg (58), en haar twee werknemers, me. Hilda Linane (34) en mnr. Zakhewo Mhlongo (66).

Die voorval
Die man is doodgeskiet terwyl die Polisie besig was om die vermeende moordenaars se vingerafdrukke te neem. Hy het ‘n SAPD-lid se vuurwapen in die hande gekry en sou die beampte geskiet het toe ‘n ander Polisieman hom doodgeskiet het.

Die vier het na bewering verlede week ‘n brand op die Kargs se plaas gestig, en tydens die geskarrel om die brand geblus te kry is Karg en die twee werkers vermoor.

“Nou is dit in die hande van die regstelsel”

Intussen sê mnr. Koos Marais, voorsitter van die KwaZulu-Natalse Landbou-unie (Kwanalu) hy is baie dankbaar dat die Polisie die verdagtes opgespoor het.

“Ek weet van ‘n hele paar beamptes wat die afgelope week baie min slaap gekry het, en hulle het weer ons vertroue in die Polisie herstel. Dit herstel egter nie die sekuriteit van die drie gesinne wat deur die misdade gebroke gelaat is nie.

“Ons beroep ons nou op die regstelsel om ‘n duidelike boodskap uit te stuur dat dié misdade nie geduld sal word nie. Dit is tyd dat die gemeenskap se vertroue in die regstelsel herstel word, want in so baie ander sake pleeg iemand ‘n moord en kry hy môre weer borg en is terug op straat,” merk Marais op.

Marais sê hy hoop ook dat die regstelsel gedurende dié proses ook die regte van die slagoffer sal handhaaf. “Ons hoor so baie wat die oortreder se regte is, maar wat van die regte van die slagoffer?”

29 Julie 2010

4
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.