|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 18:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 59% |
| Wind: |
Min slagoffers van plaasaanvalle ontvang enige berading vir trauma en talle is só vol vrees en angs dat hulle nie met die boerderybedrywighede wil voortgaan nie.
'n Onlangse studie het getoon dat uit die bykans 8 200 plaasanvalle die afgelope tien jaar, 98 % van getraumatiseerde slagoffers geen berading ontvang het nie. Mnr. Gideon Botha van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, wat met behulp van die Agri Securitas-trustfonds help om landwyd traumawerksessies vir slagoffers te reël, sê talle slagoffers sien nie kans om langer op die plaas te bly nie.
"Plaasaanvalle gaan dikwels gepaard met uiterste verminking juis omdat die aanvallers vrees by hul slagoffers wil inboesem. Dit veroorsaak buitengewone trauma wat binne 48 uur ná die aanval behandel moet word om dit met welslae te verwerk," sê hy.
Mnr. Botha sê slagoffers en hul naasbestaandes moet let op trauma-simptome soos angsaanvalle, depressie, eensaamheid, disfunksionele verhoudings en verskeie vorme van verslawing.
Hy sê die belangrikste element van berading is 'n ontlontingsproses, wat óf in 'n spreekkamer kan gebeur óf op 'n natuurlike manier kan geskied wanneer die slagoffer oor sy ervaring praat. Boere kan 'n belangrike ondersteunende rol onder mekaar speel en die situasie help ontlont deur net te luister wat met die slagoffer gebeur het.
Die trauma-werksessies word aangebied deur mnr. Botha, prof. George Lotter van die departement praktiese teologie aan die universiteit en dr. Piet Joubert, 'n sielkundige van Potchefstroom.
1 Augustus 2003Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24