Agri SA het aan die plaaswerkersberaad onttrek en nie die resolusies van die beraad aanvaar nie.
Ná die voorlesing van die resolusies op Saterdag, 31 Julie, het mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, aangekondig dat hy dit nié kan aanvaar nie en die organisasie aan die beraad onttrek. Die beraad is op Somerset-Wes gehou.
Möller het opgemerk dat die dokument nie enige van die organisasie se voorstelle bevat nie. “Ons meen dié resolusies stem ooreen met voorheen uitgespreekde sieninge en voornemens. Dit ignoreer die goeie verhoudinge wat wel op plase tussen boere en werkers bestaan.”
Volgens Möller sal Agri SA voortgaan om met ander instansies en buite die beraad met die departement daaroor te praat. Möller en die afvaardiging van Agri SA het hierna die beraad verlaat.
Waar sal ‘n ander platvorm wees?
Mnr. Boitumelo Tshwene, die LUR vir landbou, landelike ontwikkeling en omgewingsake in Noordwes, het opgemerk dat dié voorval nie die bespreking van die resolusies moet vertraag nie. “Hierdie is die platform waar sieninge uitgespreek is. As dit nie hier aanvaar is nie, kan jy dit nie iewers anders heen neem nie.”
“Agri SA het die reg om te doen wat hy nou gedoen het, maar enige optrede word gevolg deur ‘n reaksie. Ek weet nie waar hulle ‘n ander platvorm gaan vind nie. Dit sal nie in Suid-Afrika wees nie, dit sal in ‘n ander land moet wees,” het Tshwene gesê.
TLU SA aanvaar dit ook nie
Intussen het mnr. Jan Viljoen, voorsitter van die TLU SA in Limpopo, opgemerk dat hy op die resolusies gelet het, maar bekommerd is oor vier sake en kan derhalwe ook nie die resolusiedokument aanvaar nie.
“Ons wil graag ‘n geleentheid hê om buite hierdie beraad die dokument met die minister (me. Tina Joemat-Pettersson, die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye) te bespreek, maar ons kan dit nie aanvaar nie”.
Die resolusiedokument is op die ou end aanvaar. meer as 1000 plaaswerkers en werkers van die visseryebedryf het aan die beraad deelgeneem.
* In ‘n nuusverklaring Wat Saterdagmiddag (31 Julie) uitgererik is, sê Möller Agri SA het in goeie trou aan die beraad deelgeneem, maar die wel oorwoë voorstelle wat by die provinsiale berade gemaak is, was nie by die nasionale beraad op die tafel nie. “Ook nie die voorstelle wat Agri SA in die algemene sessies in die vier kommissies gedurende die laaste twee dae by die nasionale beraad gemaak het nie.
“Dit is ook duidelik dat die uitkomste van die beraad belyn is met vooraf opgestelde politieke standpunte en aspirasies wat geensins verband hou met die werklikhede op plaasvlak nie,” het Möller gesê.
Lees ander berigte oor die beraad:
Tina: Nie alle boere is sleg nie
Grond: 50:50 skemas werk - Zille
Zuma soek plan vir plaaswerkers
31 Julie 2010
Kommentaar
Boere, dit is tyd om sterk te staan.
Ek is ook genader om een van ons plaaswerkers te stuur , maar aan my is vertel dat daar opleiding vir plaaswerkers aangebied word . So ek maak ook die afleiding dat dat hierdie besigheid onder verskuilde agenda aangebied word , alle infrastruture is nou uitgeroei nou bly net lanbou oor om te verwoes.
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)