JAN CILLIERS
Vleissentraal en die Landbounavorsingsraad se interras Spesiale Prestasietoetsklas vir Fase C-getoetste bulle wat jaarliks by die Internasionale Pretoriaskou aangebied word, vier vanjaar sy 25ste bestaansjaar. Dit is ook die 25ste bestaansjaar van die Farmer's Weekly-toekennings vir die elite-koeie.
Behalwe vir dié toekennings, word Absa en die LNR se Vleisverbeteringskudde van die Jaar aangewys. Die Bayer/LNR-Platinum Bul-toekennings word ook oorhandig. Die Kudde van die Jaar-toekennings is vanjaar die eerste keer op provinsiale vlak en nie op streeksvlak gedoen nie. Die nasionale wenner sal op die skou uit die nege provinsiale wenners aangewys word.
Die Platinum Bul-toekennings gaan aan die eienaars van sewe bulle toegeken word. Hulle het almal goue meriete-toekennings ontvang en hul moeders die elite-toekennings in die Nasionale Vleisverbeteringskema.
Die eerste keer sal twee, pleks van een beoordelaar, die klas vir prestasiegetoetste bulle beoordeel. Hulle is dr. Nico Schutte en mnr. Roe Wiid, albei gesoute interras-beoordelaars.
Al die toekennings word op Woensdag 3 September om 11:30 in die kampioenskapsring by die Internasionale Pretoriaskou gedoen.
18 Julie 2003