Rede vir laat Groenskrif?

 

Die feit dat Agri SA sy geleenthede benut het om die ongunstige gevolge van sekere aspekte van die voorgestelde Groenskrif oor grondbeleid uit te wys, mag dalk een van die redes wees waarom dit nog nie in die Parlement ter tafel gelê is nie.

Dit is die mening van mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA. Möller het op Agri Oos-Kaap se kongres op Jeffreysbaai aan Landbouweekblad gesê dat die belangrike wisselwerking tussen ordelike landelike ontwikkeling, belegging en voedselsekerheid op ’n vergadering met pres. Jacob Zuma en sy verteenwoordigers beklemtoon is.

“Die President wat self van ’n landelike omgewing kom, het baie begrip vir ons siening getoon.” Möller sê hy het begrip vir die onbenydenswaardige posisie waarin mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, hom bevind om sekere grondherverdelingsdoelwitte voor die spertye te haal.

Politiekgedrewe proses
“Die huidige verdeling van grond in die land het nie nét deur die vrye mark tot stand gekom nie. Dit was ook ’n politiekgedrewe proses. Om dus daarop aan te dring dat dit bloot aan markkragte oorgelaat word om die balans te herstel, is nie realisties nie. Dit is ook nie in belang van kommersiële boere om ’n onverkwiklike standpunt in dié verband in te neem nie.”

Möller sê dat Agri SA nie net bloot geraadpleeg wil word nie.

“Die minister weet ons wil oor die voorstelle op die tafel onderhandel. Dit is dalk een van die redes waarom hy bereid is om verbeteringe aan die Groenskrif aan te bring voor dit ’n openbare dokument word. Bloot die feit dat hy aangedui het dat daar onbedoelde gevolge is waaraan daar nie met die opstel van die dokument aan gedink is nie, is grootmoedig. Ek meen daar is ’n middeweg waarop ons mekaar kan vind.”

Lees meer in Landbouweekblad se uitgawe van 6 Augustus.

30 Julie 2010

0
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.