Dr. Ben Ngubane, Minister van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie, het gesê die Regering wil sy besteding aan navorsing binne die volgende drie jaar meer as verdubbel.
Hy het by 'n seminaar oor die rol van biotegnologie en biodiversiteit by die beraad gesê in die tagtigerjare het die vorige regering 1,4 % van die BBP aan navorsing bestee. "Dit het tot 0,7 % afgeneem toe die ou bewind die oorlog begin verloor het, maar ons wil dit tot 1,5 % binne die volgende drie jaar verhoog."
Dr. Ngubane het gesê Suid-Afrika het daarin gefaal om die onlangse vooruitgang in biotegnologie, veral genetiese wysiging (GM), behoorlik te benut. Die nasionale strategie vir biotegnologie is daarop gemik om verlore grond te herwin en navorsing in dié verband plaaslik aan te moedig. Hy het gewaarsku dat dit behoorlik bestuur moet word om enige moontlike gevaar vir mense se gesondheid en die omgewing te verhoed.
Prof. Klaus Amman van die Bern Universiteit in Swiserland het gesê uit 150 studies is bewys dat daar bykans geen verskil is tussen organiese kos, GM-kos of kos wat tradisioneel geproduseer word nie. Organiese produkte is nie veiliger of gesonder as die res nie.
Hy het gesê GM-mielies is in wese veiliger as gewone mielies. Die GM-mielies het 75 % tot 90 % minder giftige stowwe wat deur fungi veroorsaak word. Volgens hom is dit tyd om vrede te maak met die onderskeie produksiemetodes en die voordele van almal te ontgin.
Mnr. Nico Kruger van African Products het gesê verbruikers geniet nie die voordele van GM-produkte nie. "Die mark sê ons moet wegbly van GM-produkte en omdat graanprodukte ten duurste getoets moet word om identiteit te verseker, jaag dit koste op. Dit is uiters belangrik om verbruikers ook aan boord te kry."
Dr. Florence Wambugu, uitvoerende direkteur van 'n internasionale biotegnologie-stigting, het gesê GM-voedsel gaan 'n geweldige rol in Afrika speel waar stedelinge 60 % van hul inkomste aan kos bestee teenoor 13 % in Amerika.
Sy sê veranderende handelspatrone in Afrika sal interne markte versterk en 'n afhanklikheid van Europese markte verhoed. Terselftertyd word daar strategiese venootskappe met Sjina en Indië, wat ten gunste van GM-produkte is, gesmee.
13 September 2002