|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 18:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 59% |
| Wind: |
Die Departement van Landbou het die versekering gegee dat daar geen planne vir statutêre ingryping in die vrye mark is nie en dat daar "geen eensydige verandering in beleid of wetgewing sal wees sonder deeglike oorlegpleging met alle belangegroepe nie".
Die departement verduidelik sy standpunt oor bemarking in die jongste uitgawe van sy nuusbrief, Agricultural News, ná 'n besprekingsdokument oor landboubemarking opslae gemaak het.
Mnr. Jerry Tube, skrywer van die dokument, sê daar word nêrens in die dokument vir beheermaatreëls gevra nie en dat dit nie reg aangehaal is nie. Daar word op werklike probleme klem gelê en gevra vir die skep van 'n liggaam, bestaande uit verteenwoordigers van die bedryf, om markbedrywighede te koödineer, skryf hy in die nuusbrief. "Dit word selfs beklemtoon dat dié liggaam nie onder departementele beheer moet wees nie."
Hy sê die Regering se inmenging met bemarking geskied tans op aandrang van boere self. Hy het verwys na statutêre heffings en ondersoeke deur die Landboubemarkingsraad en sê pleidooie aan die Minister deur verskillende dele van die landbousektor kom algemeen voor.
Hy sê die dokument wys daarop dat die Regering hom die reg moet voorbehou om te verseker dat die mark so vry en regverdig as moontlik is. Dit mag ook nodig wees om voorheen benadeeldes anders te hanteer om seker te maak dat hulle in die hoofstroom opgeneem word.
"Die departement moet omsien na die behoefte aan kos en ekonomiese groei van alle Suid-Afrikaners, ook boere wat voorheen uitgesluit was, terwyl kommersiële boere om verstaanbare redes meer oor hul eie winste bekommerd is."
Die departement beoog om binnekort met 'n behoorlike hersieningsproses te begin om die bemarking van landbouprodukte in die lig van tekortkominge te hersien. Alle belanghebbendes sal die geleentheid kry om die kwessies te bespreek en voorstelle te maak.
In die lig van die sektorplan vir landbou, het die departement homself verbind tot samewerking, sê mnr. Tube in sy artikel.
Mnr. Jack Raath, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê hy is bly die departement gee nou bietjie perspektief oor wat aan die gang is. Hy sê die departement se verbintenis tot oorlegpleging strook met die gees van samewerking binne die sektorplan.
"Wat presies beoog word, is nog nie duidelik nie, maar Agri SA sal binne dié proses sy mening gee en bydraes lewer."
19 Julie 2002Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24