|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 18:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 59% |
| Wind: |
Die georganiseerde landbou en die amptelike opposie sê die Regering se oorweging van 'n beperking op grondbesit deur buitelanders kan buitelandse beleggings ontmoedig en die ekonomie meer skade berokken as bevoordeel.
Mnr. Hans van der Merwe, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê hy staan 'n oop ekonomie voor en glo alle buitelandse beleggings moet verwelkom word. Volgens hom strek eiendomsreg verder as grondbesit en kan dit problematies wees om dit te definieer.
"Hoe gaan die Regering byvoorbeeld 'n openbare maatskappy wat grond in die land besit en binnelandse én buitelandse aandeelhouers het, hanteer? Uiteindelik kan beperkende maatreëls werkverskaffing benadeel."
Me. Raenette Taljaard (LP) van die Demokratiese Alliansie stem saam só 'n beleid kan ernstige gevolge vir die eiendomsmark en direkte buitelandse beleggings hê.
Volgens haar toon navorsing dat 'n klein persentasie van eiendom in die land deur buitelanders gekoop word. Hul transaksies het geen noemenswaardige uitwerking op eiendomspryse nie. Sy sê die Regering behoort eerder buitelanders aan te moedig om in die land te belê. Talle buitelanders wat eiendom in die land koop, stel ook in sakegeleenthede belang.
Me. Thoko Didiza, Minister van Landbou en Grondsake, het vroeër gesê die Regering ondersoek verskillende moontlikhede om die besit van grond deur buitelanders te reguleer en te beperk. 'n Besprekingsdokument hieroor kan voor die einde van die jaar gepubliseer word.
Volgens haar het talle mense reeds die kwessie van hoë grondpryse geopper, insluitende blanke burgers wat nie grond kan bekostig nie. Gunstige wisselkoerse beteken buitelanders het 'n groter kans om grond te bekom.
Een van die opsies wat oorweeg word is om grondbesit deur buitelanders heeltemal te verbied, maar om huureenkomste van byvoorbeeld 99 jaar met hulle te sluit.
2 Julie 2004Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24