|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 18:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 59% |
| Wind: |
Boere is die
naweek gewaarsku dat die regering hulle ingevolge die onteieningswet kan dwing
om grond wat hulle nie gebruik nie, aan hom te verkoop.
Mnr. Neo Masitela, voorsitter van die portefeuljekomitee oor landbou en
grondsake in die Parlement, het op Tweespruit gesê dié wet is nog nooit gebruik
sedert die nuwe Grondwet in werking getree het nie.
"Grondeienaars wat nie wil saamwerk nie, moenie die oorsaak wees dat die
regering dié wet nou moet afdwing nie," het hy gesê.
Volgens Masitela gee die wet die regering die mag om grondeienaars te dwing
om ongebruikte grond aan die regering te verkoop.
Hy het Agri SA en die National African Farmers' Union (Nafu) aangemoedig om
grondeienaars te oorreed om hul ongebruikte grond aan die regering te verkoop
sodat dit herverdeel kan word.
"Pres. Thabo Mbeki het gesê die grondhervormingsproses in Suid-Afrika moet in
2005 afgehandel wees. Daarom is dit belangrik dat alle landbou-belanghebbendes
saamwerk.
"Grond wat mense voorheen ontneem is, moet aan hulle teruggegee word, maar
dié mense sal ook moet bydra tot die landbou-produksie van Suid-Afrika."
Komm. Sugar Ramakarane, kommissaris van die grondsake-komitee in die Vrystaat
en Noord-Kaap, het gesê mense moenie ongeduldig raak as die
grondhervormingsproses lank duur nie.
"Hoewel die huidige grondeienaars 'n stuk grond bewoon wat in die verlede aan
ander behoort het, moet sulke grond vrywillig aan die regering verkoop word. 'n
Ondersoek na die stuk grond (se geskiedenis) moet eers gedoen word. Daarna moet
die huidige eienaar ingelig word dat daar 'n wettige eis is en dat hy dit aan
die regering moet verkoop."
Mnr. Lulu de Jager, bestuurder: organisasie en ontwikkeling van Vrystaat
Landbou, het gesê uitsprake soos dat die onteieningswet weer in werking gestel
kan word, moet met groot omsigtigheid gedoen word.
"Talle belanghebbendes, waaronder Agri SA en Nafu, wend daadwerklike pogings
aan om die grondhervormingsproses sinvol te laat verloop. Sulke uitsprake moenie
die proses vertroebel wat met groot verantwoordelikheid gehanteer word nie."
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24